Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - 'n Varkie, Covie, wat met net drie pootjies gebore is gee hoop aan mense in die uitdagende tye.
Covie behoort aan Urwin da Silva, 'n bekende inwoner van Pacaltsdorp. Hy gaan Covie, wat op 10 Januarie gebore is, aan die Gwaiing-aksiegroep skenk. Hy het besluit om die varkie Covie te noem as simbool van hoop in die huidige tye.
Da Silva het vertel dat hy 35 jaar by die George-munisipaliteit gewerk het. 'n Paar jaar gelede het hy afgetree en as 'n stokperdjie het hy met varke begin boer. Dit was heel gepas want sy voorgeslagte was ook in die landbou betrokke.
Op 10 Januarie is 'n werpsel van 10 klein varkies gebore. Hy het gesien dat een van die varkies net drie pootjies het. "Ek was baie verras. Dit is die eerste keer dat ek 'n varkie met net drie pootjies gesien het."
Omdat dit so 'n ongewone varkie is, het hy besluit om dit aan die Gwaiing-aksiegroep te skenk sodat hulle dit as 'n gelukbringer kan gebruik.
Die werpsel varkies waarvan Covie deel is. Foto: Eugene Gunning
Volgens Da Silva gaan dit goed met Covie. Hy hou wel nie daarvan om van sy ma weggevat te word nie en sal nog 'n paar weke by haar bly. Covie sukkel ook soms om aan sy ma te drink omdat hy met sy drie pootjies moet meeding met die ander varkies wat almal vier pote het.
Hy het gesê varke is maklike diere om mee te boer. "Hulle eet net baie."
Hy wil nog vir Covie na 'n veearts neem om te kyk of hy nie gehelp kan word nie.
Kyk 'n video hieronder:
Blanche Benjamin, voorsitter van die groep, het gesê hulle is baie bly Covie gaan na hulle kom. "Ons gaan alles in ons vermoë doen om hom te probeer help. Hy gaan beslis nie geslag word nie. Daar is planne dat iemand later 'n boek oor Covie sal skryf. Hy gaan ons gelukbringer wees."
Sy het gevra dat enigiemand wat kan help, soos byvoorbeeld 'n veearts, asseblief met hulle in verbinding moet tree.
Donovan Hantam, mediabeampte van die groep, het gesê Covie is 'n teken van hoop - al is dit swaar tye. Al het hy net drie pootjies, kan hy nog loop en beweeg.
A pig that was recently born with only three legs gives hope to people in these challenging times. The owner, Urwin da Silva, named the pig Covie as a symbol of hope. He has decided to donate it to the Gwaiing Action Group that wil use Covie as a mascot.
Blanche Benjamin, (links) voorsitter van die Gwaiing-aksiegroep en Urwin da Silva hou vir Covie vas.
Blanche Benjamin, (links) voorsitter van die Gwaiing-aksiegroep en Urwin da Silva by Covie se mag-sog.
Urwin da Silva, (lInks) eienaar van Covie, Donovan Hantam, media-beampte van die Gwaiing-aksiegroep, Blanche Benjamin, voorsitter van die groep, Attie Fillies, lid van die groep en Joshua Hantam by Covie. .Foto's: Eugene Gunning,
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'