GEORGE NUUS - Die bestuurder van 'n skoolbus van Olympia Vaardigheidskool in George word vermis ná 'n drama op die N2 verlede Sondag.
'n Olympia-skoolbus is op Sondag 11 November kort na 14:00 op die N2-snelweg oorkant KwaNonqaba in Mosselbaai afgetrek, omdat die drywer op 'n ongemagtigde plek gestop het.
Volgens inligting is die bus geskut aangesien daar passasiers vervoer is wat nie aan die skool verbonde is nie.
Hulle het glo betaal vir die geleentheid. Die skool het egter nie 'n permit om passasiers teen betaling te vervoer nie.
Die busdrywer, 'n algemene werker by Olympia, was op pad na Riversdal om kinders op te tel. Hy het verdwyn kort na die voorval.
Gerhard Haupt, skoolhoof van Olympia, het aan die George Herald gesê dat hy die voorval aan die Wes-Kaapse onderwysdepartement gerapporteer het vir verdere ondersoek.
Die leerders is later dieselfde middag deur 'n ander bus opgetel, wat gebruik word om leerders in Knysna te besorg.
Elke Vrydag- en Sondagmiddag vertrek drie 35-sitplek busse van Olympia, sowel as twee minibusse, om leerders te vervoer. Hulle loseer gedurende die week by Olympia.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'