GEORGE NUUS - Twee boere van Hoekwil is verheug nadat 'n rioolpompstasie, wat aan hulle kleinhoewes grens, uiteindelik herstel is.
In 'n vorige artikel (George Herald, 17 Augustus 2017) het die melkboer Nico Gerber, van Gerber Boerdery, sy frustrasie met die rioolpompstasie wat eindelose probleme veroorsaak, uitgespreek. Die pompstasie het gereeld oorgeloop en in 'n "rioolrivier" na 'n naby geleë dam gevloei.
Nog 'n boer wat oor die rioolprobleem gekla het, Etienne Gerber van Klein Begin Boerdery, het gesê hy is verlig dat die probleem uiteindelik opgelos is. "Die riool het vir dae lank in die Touwsrivier gevloei."
Die rioolpompstasie bedien 'n gedeelte van Touwsranten, wat grens aan die boere se kleinhoewes.
Ofskoon die area steeds sleg ruik, is dit nie naastenby so erg soos vroeër nie, het Gerber gesê. Die pompstasie is einde verlede week herstel en die besoedelde area rondom die stasie is besig om uit te droog. Die George-munisipaliteit het by navraag bevestig dat 'n foutiewe pomp herstel is.
Volgens Gerber het inspekteurs van die departement van gesondheid al sy plaas besoek nadat lede van die publiek oor die stank gekla het. "Hulle wou my varke vir die reuk blameer, maar ek het hulle die rioolrivier op ons kleinhoewe gewys," het hy gesê. "Ek het die probleem telkemale aangemeld. Hulle (munisipale amptenare) het altyd kom kyk en die drein leeg gesuig, maar sodra die krag afgaan, was daar maar net weer 'n probleem. Hulle het die simptome vir meer as 'n week so behandel."
Volgens Gerber kan die dam glad nie gebruik word nie, weens die erge besoedeling. "Dit gaan my duisende rande kos om die dam skoon te maak. Weens die waterskaarste sou 'n mens dit eintlik graag wou gebruik, maar helaas. Ek koop vir my varke maandeliks 20 000 liter weiwater as aanvulling."
* A milk farmer and a pig farmer from Hoekwil are delighted after a sewage pump station, which serves Touwsranten and borders on their smallholdings, has finally been restored. The pump station gave endless problems, and resulted in a river of raw sewage which polluted a nearby dam.
Die pompstasie het gereeld oorgeloop en in 'n "rioolrivier" na 'n nabygeleë dam (regs) gevloei.
Rou riool het uit die rioolpompstasie gevloei.
ARTIKEL: MICHELLE PIENAAR, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'