GEORGE NUUS - Diepkloof Primêr het op Saterdag 11 Mei 'n baie suksesvolle bingo en potjiekosdag by die skool gehou. Die hoof, Bernard Schoeman, sê dit was een van hul suksesvolle funksies.
"Die opkoms was bo verwagting, dit het selfs ons besoekers vanaf George en 'n distriksamptenaar in verbasing laat staar."
Hy sê die grootste sukses kan hoofsaaklik toegeskryf word aan die dryfkrag en samewerking van die personeel en SBL. "Met 'n leerdertal van 184 in die skool is 'n aansienlike wins van oor die R12 000 ingesamel," spog Schoeman.
Hy wil ook graag die funksie se sameroeper en die SBL asook die skool se personeel bedank. Volgens hom is vier massiewe hoender-, skaap- en groentepotte voorberei. Daar is ook 18 pryse geskenk vir die bingokompetisie waarvan die grootste prys 'n gesinsuitstappie vir vier by Cango Wild Life Ranch op Oudtshoorn is.
Hoe lekker speel hulle bingo.
"Die ouers was in ekstase oor al hul pryse. Die dominokompetisie het ook groot aanklank gevind met die wenners wat weggegaan het met gaar hoenders en gebakte koeke."
Vir die kinders was daar springkastele, haarsproei, gesigverf en musiek.
Schoeman wil al hul borge spesiaal bedank asook die plaaslike boere.
Konsentreer nou!
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'