GEORGE NUUS - 'n Bekkige graad 2-leerder (volgende jaar gr. 3) van Pacaltsdorp Primêr, Graceley Speelman, is gekies om in seisoen 3 van die kykNET-televisieprogram, Kyk wie praat, te verskyn.
Graceley is uit honderde ander aansoeke vanoor Suid-Afrika gekies nadat oudisies gedoen is.
Elke episode van dié program het kinders tussen die ouderdom van ses en nege aan wie vrae gevra word. Daar is vier volwasse deelnemers wat moet raai wat die kinders se antwoorde op die vrae was. Dit maak vir prettige oomblikke, want dis nie so maklik om te raai wat in 'n kind se kop aangaan nie.
Volgens haar ma, Elizma, is Graceley 'n kekkelkous wat van dans en sing hou. "Sy praat partykeer té veel! Maar sy is my piece of grace en sy is werklik 'n spesiale kind. Ons is baie trots op haar."
Graceley is baie opgewonde oor haar verskyning op TV en sy vertel vir ieder en elk daarvan. "Sy glo sy is klaar 'n celebrity," sê haar ma.
Graceley het vroeër in die jaar ook 'n inkleurkompetisie by die Spur gewen.
Kyk wie praat word op Woensdagaande om 20:00 op kanaal 144 uitgesaai. Graceley sal op 27 Desember, 10 Januarie en 24 Januarie in die program verskyn. Die aanbieder is die akteur, De Klerk Oelofse.
Graceley tydens die opname van episodes vir 'Kyk wie praat'.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’