TUINROETE|KAROO NUUS - 'n Groot eer het die bekende plaaslike violis, Lynette de Jager, te beurt geval.
Sy was betrokke by die klankbaan vir die rolprent, Klein Karoo 2 wat in Desember vrygestel is.
Die opnames is in Maart 2021 by StoneBear se ateljees in Stellenbosch gedoen.
Die oorspronklike klankbaan word in die eerste helfte van Maart vrygestel. Dit bevat liedjies wat deur Elvis Blue, Karin Zoid, Tim Theron, Demi Moor en Jo Black gesing word. StoneBear het al die liedjies help komponeer en Lynette speel die liedjies op haar viool.
Sy het Maandag 28 Februarie vertel dat sy Helmut Meijer en sy vennoot, Lukas de Beer van StoneBear & Mayor Music, ontmoet het en dat dit die eerste keer is dat sy so 'n klankbaan vir die filmindustrie gemaak het. Sy het dit baie geniet en as sy weer so 'n geleentheid kry, sal sy dit weer doen.
"Ek kon baie by Helmut leer. Hy is 'n briljante komponis wat musikale temas ontwikkel en uitbrei."
Meijer het gesê hy was voorheen bewus van De Jager as musikus in die Tuinroete. Volgens hom is Lynette van die beste violiste waarmee hy nog gewerk het. Sy het 'n kreatiewe aanslag. "Sy het al die magic gebring."
Musiekloopbaan
De Jager kom oorspronklik van George. Sy was op skool by Hoërskool Outeniqua waar musiek een van haar vakke was. Sy het destyds besluit om 'n loopbaan daarvan te maak en na streng keuring het sy B.Mus. op Stellenbosch gaan studeer. Viool was een van haar vakke wat sy cum laude geslaag het.
Daarna het 'n paar draaie gevolg en het sy in verskeie orkeste gespeel waaronder die Suid-Afrikaanse Nasionale Jeugorkes.
Tydens die inperking het sy met haar viool onder haar ken en strykstok in die hand, gereeld soggens of saans uit haar ouers se huis in Glenbarrie se tuin die lewens van mense opgekikker.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'