GEORGE NUUS - ‘n Graf wat voorberei was vir een van die slagoffers van ‘n noodlottige motorongeluk verlede Saterdag op die Thembalethu-brug, het byna die finale lêplek van ‘n bees geword.
Tuinroete-DBV inspekteurs, Colleen Thysse en André Baartman is gisteraand, Donderdag 28 Mei omstreeks 21:30, na die Thembalethu-begraafplaas ontbied oor ‘n beesbul wat in ‘n oop graf vasgekeer was.
Heel ironies was Thysse ook een van die ooggetuies wat verlede Saterdag op die brug was toe die bestuurder van ‘n BMW beheer oor sy voertuig verloor het en twee mense doodgery het.
“Die gat was voorberei vir een van verlede Saterdag se slagoffers wat in die ongeluk op die brug doodgery is,” vertel Baartman.
Volgens Baartman was die bees baie verward en angstig toe hulle op die toneel aangekom het.
“Ons het die George-brandweer ook ontbied. Met hulle hulp en die hulp van ‘n paar van die omstanders kon ons daarin slaag om die bees binne drie ure uit die oop graf te red. Die bees was duidelik baie verlig na die suksesvolle, maar ongewone, reddingspoging,” sê hy.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'