GEORGE NUUS - Dis onwettig om enige slang dood te maak, veral omdat alle inheemse slange beskermde spesies is.
So sê Christo Theron, 'n plaaslike slangvanger en kenner. Hy is geakkrediteer om slange te vang, te rehabiliteer en weer in die natuur vry te laat.
Sy liefde vir die reptiele het begin toe hy 'n kind was en sy belangstelling om meer te weet het mettertyd gegroei. Volgens Theron kan jy in sommige gevalle nie anders as om die slang dood te maak nie, veral as dit beseer is, maar vir hom is dit belangrik om daardie dier weer gesond te kry en in die natuur vry te laat.
Hy werk saam met 'n span slangvangers wat 'n breë kennis het van al die slange in die area en provinsie. En met die warm weer wat voorlê kan Theron net mense waarsku dat 'n slang banger vir jou is as jy vir hom. "As jy een teëkom, staan liewer stil en beweeg agteruit." Sy raad is dat mense sover as moontlik hul erwe moet skoon-hou, want dit sal slange weghou.
Volgens Theron werk al die spuite en verweerders net mooi niks. Hy meen as jy 'n slang op jou erf of in die motorhuis kry is dit op soek na kos of water.
'n Boomslang byt nie graag nie, dis gewoonlik die vanger wat gebyt word. Foto's: Deidre Cloete
Theron sal tot by jou huis kom, al moet hy ook jou hele kombuiskassie uitbreek, sal hy daardie slang kry. En dis wat hy glo eenkeer moes doen. Hy het egter ook al op tonele gekom dan is dit net 'n speelgoedslang of 'n baie groot wurm.
Theron het ook 'n baie goeie verhouding met 'n plaaslike ambulansdiens.
"Ek skakel hulle as ek uitgeroep word vir 'n dodelike slang soos die kobra. Ek besef dis 'n gevaarlike slang en dat dit met respek hanteer moet word. Maar ek moet ook veilig wees."
Indien jy hulp nodig het kontak Theron by 079 190 9428, Justin Godwin by 076 974 4415, Gavin Falck by 083 977 5901 of Nick Kolberg by 083 262 5934.
Die wyfie pofadder wil met respek hanteer word.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'