Video
GEORGE NUUSEN VIDEO - Nog 'n man met sterk rugbyverbintenisse in die Suid-Kaap, Leighton Eksteen, het sy heil in Rusland gaan soek. Eksteen (24 ) een van die SWD Arende se staatmaker spelers, het Maandag by VVA Saracens in Moskou aangesluit.
Die klub was voorheen bekend as VVA-Podmoskovye. Eksteen het verlede Vrydagaand sy laaste wedstryd vir die Arende gespeel.
Eksteen volg kort op die hakke van Rynard van As, voormalige afrigter van die Arende, wat sedert Maart die Russiese rugbyklub, Yenisey STM in Krasnoyarsk in Siberië, afrig.
Eksteen het 'n lang verbintenis met die Suid-Kaap. Hy is oorspronklik van Albertinia en was op Hoërskool Outeniqua. Later het hy onder meer vir die Arende se o.21-span, die Arende se senior span en superruby vir die Southern Kings gespeel.
Verlede jaar was hy in die Arende se span wat die finaal van die 1ste divisie van die Curriebeker teen die Valke gewen het. Eksteen het in meer as 50 wedstryde vir die Arende uitgedraf en in verskeie posisies rugby in die Suid-Kaap gespeel. Dit sluit in skrumskakel, losskakel, vleuel en heelagter.
Kort voor sy vertrek het hy aan die George Herald gesê hy hou baie van rugby. "Van kleins af het die rugby-vlooi my al gebyt. My ooms aan my ma se kant het 'n rol gespeel en my gemotiveer."
Kyk 'n video hieronder.
Vroeër vanjaar het een van sy ooms, Michael Eksteen vir hom, 'n boodskap gestuur en wou hoor of hy sou belangstel om in Rusland te gaan speel. Eksteen het geantwoord dat hy beslis belangstel. "Ek is altyd lus vir 'n nuwe uitdaging."
Die aanvoerwerk is gedoen en in Junie het die klub hom 'n kontrak aangebied. Die kontrak is gesluit vir een seisoen met die opsie om dit te kan verleng.
"Ek sien uit na die nuwe uitdaging. Die klub is in Moskou gebaseer en ek sal daar woon."
Hy het besluit om die uitdaging te aanvaar, want hy is al van 2014 by die Arende. "Dis nou tyd vir iets anders." Natuurlik gaan daar uitdagings wees en hy vermoed dit gaan 'n bietjie alleen wees.
"Ek gaan my familie en my meisie mis. My meisie, Michelle Adams, bly agter. Sy gun my die geleentheid."
Die taal kan 'n probleem wees. Van sy vriende was al daar en aan hom vertel die taal kan nogal 'n probleem wees. Hy is nie te bekommerd oor die weer nie.
As dinge goed gaan en uitwerk, kan hy dalk langer bly. Dit is selfs nie uitgesluit dat hy moontlik later kan kwalifiseer om vir Rusland se nasionale span uit te draf.
"Ek is van voorneme om 'n sukses daarvan te maak. As dit van my afhang sal ek solank moontlik daar wil bly."
Rugby is sy passie en tot dusver was hy baie gelukkig want hy het nie baie beserings gehad nie.
In sy vrye tyd speel hy gholf. "Onlangs het die gholf-vlooi my gebyt. Ek het nie gedink dit sal my so byt nie. Dit was tot my verbasing."
Eksteen het benadruk dat hy sy tyd by die Arende baie geniet het Hy het almal bedank wat hom in sy loopbaan gehelp het. Dit sluit mense in soos Deon Davids, Bevin Foruin, Darryl Coeriers, Eddie Meiners en Rynard van As.
Hy ook dankie gesê vir Hennie Baartman president van SWD Rugby. "Ek wil vir hom en sy span dankie sê vir die geleentheid om vir die Arende te kon speel."
Michael Eksteen het Maandag gesê hy is baie trots op Leighton.
"Ek hoop dit gaan goed met hom in Rusland. "Hy het Sondag daar aangekom en hy laat weet dat hy baie uitsien na sy eerste oefening saam met die span."
Leighton Eksteen Foto: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'