Hul lewenspad saam het egter reeds 68 jaar gelede begin toe Chris haar op skool, in Griekwastad, met 'n briefie gevra het om te kys.
Die twee is in 1954 in Kimberley getroud. Chris was 'n klerk in die Spoorweë en Yvonne het later as tikster daar begin werk. Sy was ook vir jare daarna bestuurder van Scott's, 'n vroueklerewinkel.
Yvonne se raad aan jonger paartjies is: "'n Mens moet belangstel in mekaar se doen en late, maar ook jou eie belangstellings hê. Dit is belangrik om as 'n span saam te werk. Chris help my steeds om groente te skil! Hy is 'n vrygewige en vredeliewende mens," glimlag sy. "Hoewel dit op en af kan gaan, is daar niks wat jy nie kan oorwin nie."
Hulle het vir 50 jaar in Kimberley gewoon voordat hulle 15 jaar gelede na George ver-huis het. Hulle is baie trots op hulle enigste dogter, Christelle Smit, bekende eienaar van 'n dansskool in George, hul skoonseun Gavin, asook hul kleindogter Philippa Wessels en dié se man, Albert wat in Kanada woon.
Chris en Yvonne is nog baie aktief en sosiaal. Chris skilder graag en geniet dit om tuin te maak en Yvonne is 'n kranige naaldwerkster wat haar strooimeisies se rokke en haar eie trourok self gemaak het. Sy het al die jare haar eie klere en hoede gemaak, en doen dit steeds af en toe. Sy verkies ook om nog self haar huiswerk te doen.
Chris sê sy leuse in die lewe is geskoei op die Bybelvers, Filippense 3:13 wat sê dat 'n mens als moet vergeet wat agter jou is en vorentoe moet lewe. "Ek het twee hartaanvalle gehad en vier jaar gelede kolonkanker, maar ek het dit heeltemal agter my gesit. 'n Mens moet positief wees en die lewe geniet. Ons is ook baie lief vir mense en reik uit na ander," sê Chris.

Die Van der Walts op hul troudag in 1954. Yvonne het haar trourok self gemaak.
ARTIKEL: ALIDA DE BEER, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'