GEORGE NUUS - Die George-munisipaliteit het 'n hersone-ringsaansoek vir 'n woonstelblok van vier verdiepings op erf 18283 in Goucesterlaan, die oop ruimte aan die onderpunt van die straat langs die Camphersdriftrivier ontvang.
Die erf is op die noordwestelike hoek van die aansluiting van die toekomstige verlenging van Scoutstraat by Gloucesterlaan geleë.
Dit is tans gesoneer as enkel residensiële sone I en die aansoek is vir algemene residensiële sone IV sonering.
Volgens die aansoek wat deur Jan Vrolijk, stadsbeplanner namens Stonecrete Property Investments 9 (Pty) Ltd gedoen word, sal daar 38 woonstelle wees met 'n parkeergebied op die grondvloer met 76 parkeerplekke.
Toegang tot die woonstelblok sal vanaf Gloucesterlaan wees. Die woonstelblok sal 55% van die erf van 2 232m² dek.
Daar word ook aansoek gedoen vir die verslapping van die parkeervereistes vanaf twee parkeerplekke per woonstel na 1,79 parkeerplekke per woonstel.
In sy motivering vir die ontwikkeling sê die aansoeker die feit dat daar reeds geboue van redelike omvang in die direkte omgewing van die erf voorkom, naamlik die oogkliniek, die neurokliniek, Mediclinic asook verskeie woonstelblokke in De la Fontainestraat, dui daarop dat die omgewing wel 'n ontwikkeling van hierdie omvang kan akkommodeer.
Dit is naby openbare bushaltes, werksgeleenthede en winkels geleë. Dit sal ook die residensiële komponent van die sakekern versterk, in lyn met riglyne vervat in George se ruimtelike ontwikkelingsplan.
Caren Botha, eienaar van Core Strength Pilates Studio wat oorkant die ontwikkeling geleë is, het haar kommer teenoor George Herald uitgespreek oor die impak wat dit op verkeer in Gloucesterlaan sal hê.
Sy sê 'n verkeersimpakstudie is gedurende die Desembervakansie en in vroeg Januarie gedoen toe die verkeersdruk baie minder as normaal sou gewees het.
Dr. PC Pelser van die Garden Route Hand Unit het gesê die straat dra reeds geweldig baie verkeer en 'n woonstelblok kan 'n groot toename en opeenhopings veroorsaak wat dit vir pasiënte van praktyke in die straat gaan bemoeilik.
Die RLR se bestuurder, Liesbet Olivier, sê in De la Fonteinestraat (waar die RLR-aftreeoord geleë is) is reeds 'n soortgelyke woonstelblok in aanbou wat toekomstige verkeersvloei daar gaan beïnvloed.
"Ons bejaarde inwoners sukkel al klaar om uit Scoutstraat in Davidsonweg in te draai. As Scoutstraat verleng gaan word om sodoende vir Gloucesterlaan met Davidsonweg te verbind, sal mense kortpad vat deur Scoutstraat om die middedorp te vermy, wat nog ekstra verkeer by die Davidsonweg-kruising gaan meebring."
Kassie Karstens, Mediclinic George en Geneva se bestuurder, het gesê hy is nie bewus van die aansoek nie, maar hulle sal bekommerd wees oor die impak op riool, verkeer en die toestand van die pad, sou so 'n ontwikkeling voortgaan. "Die huidige deurgang by die veld onder in die straat is egter ook 'n groot bekommernis en ons vind dat misdaad in die straat toeneem en daardie deurgang gebruik word as 'n toegangspad vir moeilikheidmakers."
Volgens die hoof van beplanning en ontwikkeling by George-munisipaliteit, Lauren Waring, is die verkeersimpakstudie nie oor Desember en Januarie gedoen nie.
"Die konsepverslag is in Desember voltooi en die finale verslag in Januarie ingehandig, wat beteken dat die studie voor hierdie datums gedoen moes gewees het. Hierdie studies word gedoen deur die jongste tegnologie te gebruik en volgens die nuutste ingenieurstandaarde."
Oor 'n klagte dat die ontwikkeling nie wyd genoeg geadverteer is nie, het Waring gesê die aansoek is op 9 Maart ingedien en is in Die Burger van 16 Maart geadverteer asook op die munisipale webwerf en Facebook-blad op dieselfde datum.
"Die aansoeker het bykomend tot 'n plakkaat op die erfgrens, ook geregistreerde kennisgewings deur die Poskantoor aan elke eiendomseienaar gestuur. Dit sal waarskynlik afgelewer word ongeveer 10 dae nadat dit gepos is, wat verlede week of vandag (28 Maart) kan wees."
Vrolijk het nie op boodskappe of 'n e-posnavraag gereageer nie. Kommentaar op die ontwikkeling kan voor of op 11 April ingedien word by Marina Welman by die George-munisipaliteit by mhwelman@george.gov.za.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'