GEORGE NUUS - Bloed is dikker as politiek. 'n Bewys daarvan is drie broers wat onder die vaandels van drie verskillende politieke partye aan die plaaslike verkiesing op 1 November deelneem.
Sam Crowley staan vir Good, Mark staan vir die ACDP en Gideon staan vir die Patriotic Alliance.
Sam (55), die oudste broer en Gideon (49), die jongste broer is selfs direkte teenstanders in wyk 1 in Blanco. Mark (51) staan in Overstrand/Hermanus. Hulle het twee susters wat hulself nie met politiek bemoei nie.
Die broers, wat ook al drie in die onderwys is, sê hulle is steeds op goeie voet, al verskil hulle polities. Dis die eerste keer dat hulle al drie saam aan 'n verkiesing deelneem. Hulle praat politiek as hulle mekaar sien, maar respekteer mekaar se standpunte.
Bloed dikker as politiek
"Bloed is dikker as politiek," sê Sam, wat al 'n lang pad stap in die politiek. Hy was in die 80's betrokke by bevrydingspolitiek en sê die fokus moet weg van velkleur.
Geleer om verdraagsaam te wees
Mark sê hulle is baie lief vir mekaar. "Ons het wel verskillende standpunte. My pa, Johannes Crowley het ons van kleins af aangemoedig om die nuus te volg en ander mense te respekteer." Hy sê ook velkleur maak nie saak nie.
"Ons het in 'n huis grootgeword waar ons geleer is om verdraagsaam te wees. Al verskil ons polities, kom ons goed oor die weg. Ons wil aldrie mense help."
Waar mense eners dink, dink niemand nie
Gideon stel al van skooldae af belang in die politiek.
Vanjaar is die eerste keer dat hy as 'n kandidaat aan 'n verkiesing deelneem, maar hy het al baie gehelp met stemwerwing.
Dis nie vir hom 'n probleem dat hy en sy broers polities verskil nie. "Waar mense eners dink, dink niemand nie."
Hulle het swaar grootgeword en hy sien homself nie as 'n tradisionele politikus nie. "Ek is 'n gemeenskapswerker. Jy moet op voetsoolvlak die mense se behoeftes ken."
Hy glo nie aan politieke verdagmakery nie. "Ek is oplossinggedrewe."
Die broers het dieselfde doelwitte. "Ons het net verskillende benaderings oor hoe om daar te kom."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'