VERKIESINGSNUUS - Die politieke ontleder, prof. Erwin Schwella, tree as kommentator en gesprekleier op by die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) se uitslagsentrum in Kaapstad. Schwella het aan George Herald gesê hoewel daar ná 25 jaar wel 'n element van intellektualiteit by kiesers teenwoordig is, daar in die aanloop na die verkiesing tog baie op gevoelens staatgemaak is om kiesers se steun te werf en kiesers by die stembus te kry.
"In Suid-Afrika is heelwat van die kwessies steeds nog baie rou. Daar is eintlik nog te veel emosie in gedrang, sinnelose dade van verdeling word gepleeg wat nie in 'n verkiesing tuishoort nie," het Schwella gesê. Hy sê die demokrasie is 'n klassieke, lerende organisasie. "In elke politieke ronde kom wel nuwe perspektiewe en insigte. Goeie verkiesingstrukture soos deur die OVK verskaf dra by tot effektiewe verkiesings in Suid-Afrika."
Schwella meen Suid-Afrika se verkiesings verloop grootliks vry en regverdig en is origens nie aan ernstige geweldspleging onderhewig nie.
Op die vraag of daar in die land se jong demokrasie plek is vir 48 politieke partye op een stembriefie, sê Schwella Suid-Afrika se proporsionele kiesstelsel bied juis meer standpunte die geleentheid vir politieke verteenwoordiging.
"Dit lei waarskynlik wel tot enkele nadele, soos wie op die proporsionele lys die kieser verantwoordelik hou wanneer kwessies aangespreek moet word? Tóg, hoe meer menings in die demokratiese forum ingedra word, hoe beter. Die bestel laat juis 'n klomp partye toe om meer standpunte te deel. Uiteindelik sal die kiesstelsel wel bepaal wie parlementêre verteenwoordiging kry waar die party gesaghebbend is en waar dit 'n verskil kan maak."
Schwella het ook sy insigte gedeel oor politieke partye wat beweer dat 'n stem vir 'n klein party 'n vermorste stem is.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'