Video
GEORGE POLITIEKNUUS EN VIDEO - 'n Koalisie met die ANC in die Wes-Kaap: Nee. 'n Koalisie met die DA in die Wes-Kaap: Dis 'n moontlikheid. Dit was die boodskap Vrydagaand van Peter Marais, die VF Plus se premierskandidaat in die Wes-Kaap.
Dit was die eerste keer dat Marais George in sy nuwe hoedanigheid besoek het. Hy het met ondersteuners van die party, plaaslike Khoisan-leiers en die media gepraat.
Marais was vergesel van dr. Corné Mulder, die Wes-Kaapse VF Plus-leier en adv. Gert van Niekerk, die party se leier in die George-stadsraad. Toe die vergadering begin het, was die krag nog aan, maar toe Eskom se beurtkrag inskop is dit later by kerslig en ligte wat met batterye werk voortgesit. Marais het in sy toespraak aan die gehoor gesê daar moet nuut gedink word. "Ons moet met 'n nuwe plan kom. Die ou plan het nie gewerk nie.”
Volgens hom is 'n nuwe politieke denkrigting en filosofie nodig. Hy het gewaarsku dat Suid-Afrika besig is om in die afgrond te gaan. Hy het gesê wit en bruin hoort saam. “As Afrikaanssprekendes dit nie aanvaar nie, gaan Afrika die begraafplaas word van die Afrikaner.” Die VF Plus wil vir almal 'n plekkie in die son verseker.
Wat Marais betref is die DA nie die antwoord nie en daar is geen verskil tussen die DA en die ANC nie.
Na die vergadering het Marais aan die George Herald gesê hy beskou homself as 'n bruin Afrikaanse en nie 'n bruin Afrikaner nie. Daar is 'n verskil. "Die Afrikaner het 'n ander geskiedenis as ek. Ek deel sy taal, kultuur, sy godsdiens en behoudendheid. Daar is wel enkele verskille." Hy voel wel baie tuis in die VF Plus.
Marais het 'n pleidooi gelewer vir 'n groter mate van afwenteling van gesag van die nasionale regeringsfeer na provinsies en stadsrade.
Dr. Corné Mulder, die Wes-Kaapse VF Plus-leier, praat oor die party se beleid. In die agtergrond sit Peter Marais, die party se premierskandidaat in die Wes-Kaap.
Op die vraag hoe hy dit gaan regkry (van 'n ANC-regering) het hy geantwoord: "In Afrika moet alles gebeur met onderhandeling anders moet ons mekaar begin doodskiet. Een van die twee. Ek verkies onderhandeling."
Kyk 'n video hieronder:
Hy het gesê die Wes-Kaapse provinsiale grondwet maak voorsiening vir 'n referendum. Dit kan gehou word oor of inwoners selfbeskikking wil hê. "Wanneer die ja gekry is, begin die geveg."
Marais beskou koalisiepolitiek in die Wes-Kaap as onafwendbaar. Die VF Plus sal besin oor moontlike vennote. Dit sal afhang van die toegewings wat 'n party bereid sal wees, om te maak.
Volgens hom het die VF Plus se nasionale leier, dr. Pieter Groenewald reeds aangedui dat die party bereid sal wees om met die DA 'n koalisie te vorm. Hy het benadruk, bereidwilligheid beteken nie dit sal noodwendig gaan gebeur. "Daar moet nog baie gepraat word."
Oor een ding is daar nou reeds duidelikheid: "'n Koalisie met die ANC is van die baan."
Mulder het die party se fokus op minderhede verdedig. Volgens hom kan minderhede, as hulle saamwerk, 'n nuwe meerderheid vorm. Suid-Afrika is 'n diverse land. “As jy 'n suksesresep wil hê, moet die verskeidenheid in die land erken word.”
Peter Marais, die VF Plus se premierskandidaat in die Wes-Kaap, tydens sy optrede in George. Foto's: Eugene Gunning
Dr. Corné Mulder, Wes-Kaapse VF Plus-leier het na die vergadering gesê daar is 'n goeie kans dat 'n koalisieregering in die Wes-Kaap gevorm sal word. Die VF Plus is nie ten gunste van 'n ANC- of 'n EFF-regering of 'n ANC/EFF-koalisie nie. Ook nie van 'n alleen DA-regering nie. "Die DA kort 'n waghond. Ons hoop dat ons genoeg steun sal kry om saam met die DA en ook die ACDP waarskynlik, 'n sinvolle koalisie te vorm."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'