OUDTSHOORN NUUS - 'n Man en vrou van Oudtshoorn verskyn op 28 Augustus in die hof ná hulle na bewering onwettig bedreigde vetplante in die veld gestroop en verkoop het.
Volgens Leon Rossouw, stigter van die Wildlife Crime Information Network (WCIN), was die operasie waarin die paartjie in hegtenis geneem is 'n gesamentlike een tussen die WCIN en die veediefstal- en bedreigdespesieseenhede (Stes) van Worcester en Oudtshoorn uitgevoer.
"Inligting is ontvang dat sekere individue by hul huis in Oudtshoorn-Noord onwettig bedreigde vetplante uit die natuur rondom Oudtshoorn oes en dit op Facebook Marketplace verkoop.
"Vierhonderd-een-en-veertig bedreigde vetplante is by die adres gevind en gekonfiskeer. Die operasie vorm deel van die voortgesette pogings tussen die WCIN, die veediefstal- en bedreigdespesieseenhede, CapeNature en ander belangrike rolspelers om die onwettige handel en oes van vetplante uit die natuur in die Wes-Kaap te bestry," verduidelik Rossouw.
Daar is, volgens hom, op 360 trosse Conophytum trucatum en 77 Haworthia truncata en Haworthiopis attenuate beslag gelê. Die waarde van die plante beloop ongeveer R189 480.
Die plante is aan CapeNature oorhandig.
Volgens Luke Folp, CapeNature se woordvoerder, is hulle betrokke by die plantidentifikasieproses.
Rossouw sê onwettige vetplanthandel en -stropery neem toe. "Dit behels die onwettige stropery van skaars, bedreigde of beskermde vetplantspesies, wat dan op ongereguleerde platforms soos Facebook Marketplace verkoop word. Hierdie plante kan honderde, soms selfs duisende dollars werd wees. Die probleem ontstaan omdat hierdie plante tipies uit die natuur geoes word eerder as om wettiglik gekweek te word."
Volgens hom is die onwettige stroop en verkoop van die bedreigde vetplantspesies uiters skadelik vir biodiversiteit, omdat sommige spesies kan uitsterf as dit in oormaat gestroop word. Vetplante loop die risiko van uitsterwing as gevolg van oormatige oes, en die onwettige handel oortree ook dikwels ooreenkomstes soos Cites (Convention on International Trade in Endangered Species of Wild Fauna and Flora), 'n internasionale ooreenkoms wat die handel in bedreigde spesies reguleer om hul oorlewing te verseker.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’