Update
GEORGE NUUS - Die saak teen Sidwell Buys, die verdagte in die moord op Lindsay Johnson (17) van New Dawn Park, Pacaltsdorp, is vanoggend, Donderdag 6 Maart, in die George-streekhof uitgestel tot 10 Junie vir die bepaling van 'n verhoordatum.
Buys is op Dinsdagaand 21 Mei 2024 in Thembalethu in hegtenis geneem ná vinnige optrede deur die polisie en lede van die Pacaltsdorp Gemeenskapspolisieeringsforum.
Dit volg op die wrede moord op Johnson op Sondag 19 Mei in New Dawn Park, waar sy doodgesteek is.
Volgens die polisie word Buys aangekla van moord en aanranding met die doel om ernstig te beseer ná nog 'n vrou, wat ten tyde van die voorval saam met Johnson was, ook ernstige steekwonde opgedoen en na die hospitaal vervoer is.
Ooggetuies beweer dat Johnson, die ander slagoffer en Buys by 'n huis saam gekuier het toe 'n argument ontstaan het, wat tot die bakleiery gelei het. Mediese personeel het Johnson op die toneel dood verklaar.
Johnson is op Saterdag 1 Junie begrawe.
Lees 'n vorige artikel: Vyf vas ná drie moorde in Pacaltsdorp
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’