GEORGE NUUS - "Ek kan nie lank praat nie. My hart is gebreek, en ek huil vinnig," het Jacob Daters (65) Dinsdagmiddag tydens 'n telefoniese onderhoud aan George Herald gesê.
Daters se enigste dogter, Sharoline Daters (26), is in die vroeë oggendure van Sondag 9 Maart vermoor - blykbaar deur iemand wat sy geken het.
Sharoline word op Saterdag 22 Maart, langs haar ma, in Beaufort-Wes begrawe. "Dat hulle bymekaar kan wees," sê hy.
Hy onthou haar as 'n dierbare mens met die mooiste glimlag - iemand wat altyd bereid was om ander te help.
"Sy was 'n liewe mens en het so mooi na my gekyk. Ek kan nie verstaan dat iemand haar lewe sou wou neem nie. Hier staan ek nou alleen en kosmaak."
Verskeie weergawes van die voorval het George Herald bereik, en voordat enige aannames gepubliseer word, moet daar eers vasgestel word wat werklik gebeur het. Hofverrigtinge het reeds begin.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het Conville-polisie 'n moorddossier geopen ná Sharoline se dood in Proteapark.
"Volgens voorlopige inligting het die slagoffer en 'n ander vrou 'n argument by die slagoffer se woning gehad. Sy het 'n steekwond aan die bors opgedoen en is na die hospitaal geneem waar sy later deur mediese personeel dood verklaar is," sê Spies.
Die verdagte, Micaela Smit (24), is later op aanklag van moord in hegtenis geneem.
Sy het reeds haar eerste hofverskyning gemaak en is vrygelaat op borgtog om op 'n latere stadium weer te verskyn.
Volgens gerugte is Smit die voormalige meisie van Daters se neef, en hulle het twee kinders saam.
Op die aand van die voorval was Daters saam met haar neef toe daar glo 'n bakleiery tussen hom en Smit oor die kinders ontstaan het.
"Sharoline was seker maar net op die verkeerde plek op die verkeerde tyd," het 'n familielid uit die Kaap gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’