Gallery
GEORGE NUUS - Die Oosstreek van die DA in die Wes-Kaap het op Vrydag 19 Desember 'n optog na die Conville-polisiestasie gehou waar George se burgemeester, Browen Jonson, 'n petisie aan die polisie oorhandig het in verband met die hoë misdaadsyfer.
In die petisie word 'n versoek gerig aan die waarnemende minister van polisie, prof. Firoz Cachalia, om in sy departement in te gryp sodat inwoners se veiligheid verseker kan word.
Onder die optoggangers was die George-raad se hoofsweep, Jackie von Brandis, en ander openbare verteenwoordigers van die DA, asook inwoners wat hulle stem wou dikmaak teen toenemende misdaad. Hulle boodskap was, 'Genoeg is genoeg'.
Johnson het gesê gemeenskappe word al vir te lank deur misdaad "gyselaar gehou".
"Die DA Wes-Kaap Oosstreek het nou genoeg gehad en eis veiliger gemeenskappe. Ons sien hoe inwoners van George gebuk gaan onder misdaad, hoe die polisie sukkel met te min mannekrag en toerusting, en met verouderde toerusting. Met hierdie petisie versoek ons die regering om die SAPD reg te ruk en te versterk."
George Herald-joernalis Kristy Kolberg het onlangs berig dat Conville ’n afname in gemeenskapsgerapporteerde misdaad getoon het, met algehele ernstige misdaad wat met 3,8% gedaal het en kontakmisdade wat van 236 tot 196 afgeneem het. Gewone aanranding het van 91 tot 62 gedaal, terwyl moorde van 10 tot vier verminder het.
Seksuele misdrywe het egter van 12 tot 18 toegeneem, grootliks weens ’n styging in verkragtingsake van agt tot 13. Inbrake by residensiële eiendomme het van 59 tot 50 afgeneem, terwyl nie-residensiële inbrake effens toegeneem het. Polisie-opgespoorde misdaad het met 44% gestyg, met dwelmmisdaad wat met 84 toegeneem het, arrestasies vir bestuur onder die invloed wat verdubbel het, en onwettige vuurwapenbesit wat verdriedubbel het.
Die burgemeester het Vrydag gesê hoewel die munisilaliteit miljoene aan veiligheid spandeer, bly dit die verantwoordelikheid van die polisie.
"Minister, ons vra vir u baie mooi - duisende Suid-Afrikaners het die petisie geteken om te sê, 'Help die SAPD om ons gemeenskappe veilig te maak'. Ons vroue en kinders wat soggens skool toe moet gaan, moet op busse klim, maar hulle word beroof en seergemaak."
Die George-munisipaliteit het 600 plus CCTV-kameras geïnstalleer en 21 nuut opgeleide wetstoepassings- en vredesbeamptes het onlangs in Thembalethu sertifikate ontvang.
"Dis geld [vir hierdie projekte] wat ons plaaslike regering gebruik, maar dis nie genoeg nie. Ons vra die minister om die polisie reg te ruk en hul mannekrag en toerusting te verbeter.
"Die ekonomiese groei van 'n stad is afhanklik van die veiligheid van die gemeenskap. As ons mense weens misdaad nie werk toe kan gaan nie, dan het ons 'n groot probleem in hierdie land."
Lees 'n vorige artikel:
Sobering crime statistics: George leads with drunk driving
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’