Update
GEORGE NUUS - Die 33-jarige man wat in hegtenis geneem is ná die dood van Lauri-Kay Michaels (21) van Pacaltsdorp, Cheslynn Hendricks, het vanoggend, Woensdag 16 April, in die George-landdroshof verskyn. Die saak is uitgestel tot Donderdag 15 Mei.
Hy is Maandag 10 Maart op borgtog van R1 000 vrygelaat na hy kort ná die voorval op Saterdag 8 Maart in hegtenis geneem is.
Michaels se familie stem nie saam dat Hendricks op borgtog vrygelaat moes word nie. Hy staan tereg op aanklagte van strafbare manslag en bestuur onder die invloed van alkohol, asook roekelose en/of nalatige bestuur, en versuim om by die toneel van die ongeluk te stop.
Michaels is Saterdagaand 8 Maart deur ’n wit Honda met verlaagde suspensie getref terwyl sy saam met vriende in Missionstraat huis toe gestap het ná ’n rugbywedstryd by Pacaltsdorp-stadion.
Die Honda was in die teenoorgestelde rigting. Beamptes van Conville-polisie by ’n nabygeleë stopstraat het glo die voorval gesien en die voertuig agternagesit. Hendricks is later by ’n woning nie ver van die toneel af nie, in hegtenis geneem.
Nooddienste het op die toneel opgedaag, maar Michaels is ongelukkig op die toneel aan haar beserings dood verklaar.
Graham Witbooi, William Prince en Lauri-Kay se ouma, Charlene Titus, wil almal geregtigheid hê vir Lauri-Kay. Hulle glo geen borgtog moet aan dronkbestuurders toegestaan word nie.
Previous articles:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’