GEORGE NUUS - Die man, Gian Oliver (20), wat daarvan aangekla word dat hy die 23-jarige Estiaan Olieslager van Rosedale op Saterdag 5 Oktober in Golgotastraat doodgesteek het, het Maandag 14 Oktober sy tweede verskyning in die George-landdroshof gemaak.
Volgens 'n provinsiale polisiewoordvoerder, kaptein FC van Wyk, ondersoek die Pacaltsdorp-polisie 'n moordsaak na Olieslager omstreeks 20:45 doodgesteek is ná hy en die verdagte in 'n bakleiery betrokke geraak het.
Met die polisie se aankoms op die toneel is Olieslager se lyk met steekwonde aan sy bors in die straat gevind.
"Die oorsaak van die moord is glo 'n argument tussen die slagoffer en die verdagte," sê Van Wyk.
Oliver is kort ná die voorval in hegtenis geneem en hy het op Maandag 7 Oktober sy eerste verskyning in die George-landdroshof gemaak. Oliver verskyn weer môre, Vrydag 18 Oktober, vir sy formele borgtogaansoek in die George-landdroshof.
Volgens Olieslager se ma, Esmerelda Olyn, was haar seun 'n rustige mens wat nie moeilikheid gesoek het nie.
"Hy het in Proteapark grootgeword by sy oom. Hy was 'n liefdevolle wat kind altyd respek getoon het teenoor ander mense. Hy het nooit moeilikhied gesoek nie en was altyd die een wat dit eerder vermy het," sê sy.
Enigiemand met inligting rondom die voorval word gevra om die ondersoekbeampte adjudant-offisier Josh Rondganger by 044 803 9130 te kontak.
'n Huisdiens vind eerskomende Saterdag by sy woonhuis in Kannastraat, Proteapark, plaas. Hy laat sy vier suster, sy broer, sy ouers en sy ouma en oupa agter.
'n Troosdiens is vandeesweek vir Olieslager gehou.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’