Sponsored Content
SAKENUUS - Die manne wat die kitaar slaan in die direksie van Rauch Gertebach Prokureurs, het almal saam met hulle jare se toegewyde diens en hulle tasbare bydrae tot die firma se nalatenskap, beslis ‘n rykdom van staaltjies om te vertel.
Ten spyte van uitdagende skedules wat ‘n hoë premie op hulle tyd plaas, het die direksielede op die vooraand van die firma se eeuwording op 1 Maart, ‘n uurtjie saam afgeknyp om oor die verlede, die hede en die toekoms te gesels.
Die Acker-era
Danie Acker het in Augustus 1993 by Rauch Gertenbach Prokureurs aangesluit. In ‘n vorige onderhoud onthou Chappie Gertenbach sy aankoms goed.
“Hy het hier met sy “suit’jie” aangekom, ‘n jong, korporatiewe prokureurtjie.”
Acker en destydse vennoot in die firma, wyle Danie Pretorius het as jong afgestudeerdes saam in Volkskas-bank se boedelafdeling op Bloemfontein gewerk. Hulle paaie skei toe Acker ‘n ander pos kry en Pretorius beland op Mosselbaai
Acker, sy korporatiewe beeld ten spyt, was glad nie ‘n vreemdeling op Mosselbaai nie. Sy oupagrootjie, oupa en ook sy ma, is op Mosselbaai gebore. Vakansietye het hy dus gereeld op Mosselbaai by sy oupa-hulle kom kuier. Toe Pretorius destyds nog in die Scholtz-gebou in Cuff-straat vir Rauch Gertenbach gewerk het, het Acker gereeld by hom ingeloer vir ‘n koppie koffie.
“Met die verskriklike toename in insolvensies in die vroeë negentigs, bel Danie my eendag en noem dat hulle firma ‘n insolvensie-afdeling wil begin. Hy vra toe of ek nie wil kom nie en dis hoe ek by Rauch Gertenbach aangesluit het.”
Acker vertel spitsvondig hoe hy sy huis op Bloemfontein en al sy beeste, behalwe ‘n bul verkoop het.
“So kom ek met ‘n Nissan Skyline, ‘n geel Isuzu-bakkie, ‘n klomp geld en ‘n bul 30 jaar gelede op Mosselbaai aan.”
Een Saterdagmiddag, toe die firma reeds by Kerkstraat 10 gevestig was, nooi die destydse vennote, naamlik wyle Braam Deacon, wyle Danie Pretorius, Krige Zietsman en Chappie Gertenbach Acker na ‘n vergadering wat bepalend van die volgende dekades van sy lewe sou wees.
Met die uitskryf van ‘n tjek of twee, word hy vennoot in die firma.
Spesialisering is die sleutel
Jaco Fourie het in 2004 by die firma aangesluit. Dit was rondom dieselfde tyd wat Chappie Gertenbach begin uittree het. Fourie, toe op Henneman in die Vrystaat waar Danie Acker se pa ‘n landdros was, het reageer op ‘n advertensie dat Rauch Gertenbach ‘n posisie beskikbaar het.
Toe die gulde geleentheid hom voordoen dat Fourie die skuif na Mosselbaai kan maak, het hy slegs een voorwaarde op die tafel gesit.
“Ek het gesê ek sal kom, maar ek wil net nie weer in die hof verskyn nie.” En só kry Fourie die geleentheid om sy vaardighede in aktevervaardiging te ontwikkel, ‘n veld waarin hy vanjaar in Februarie reeds 18 jaar lank spesialiseer.
“Dié afdeling in die firma waarin ek werk, het geweldig uitgebrei, omdat die eiendomsbedryf soveel groei beleef.”
Met die semigrasie waaruit die Tuinroete en veral Mosselbaai soveel voordeel trek, meen Fourie dat hy beslis verdere groei vir minstens die volgend vyf tot ses jaar in die vooruitsig stel.
“Ons is beslis geseënd danksy die huidige tendens. Op ander plekke trek mense in my bedryf swaar, aangesien eiendomme moeilik verkoop en daar net nie meer verdere eiendomsontwikkelings aangepak word nie. Daarenteen, is ons genadiglik eintlik toegegooi met werk.”
Energie, passie en visie
Wat volgens Acker die grootste verandering gedurende die 30 jaar is, is dat die firma inderdaad ‘n tot hoogs professionele onderneming ontwikkel het. Hierdie sukses skryf hy onder meer toe aan die koms van Basson Piek, die firma se bedryfshoof.
“Ons vergelyk in alle opsigte met ‘n stadsfirma,” sê Acker met trots. En dit is onder meer een van die redes waarom Rauch Gertenbach as ‘n gesogte werkgewer beskou word.
“Male sonder tal, as ons mense aanstel, het hulle gesê dat dit vir hulle ‘n lewensdroom of begeerte was om vir Rauch Gertenbach te werk.”
Acker sê dat energie, passie en visie van die grootste dryfvere in die firma is.
“Dit gaan vir ons oor dienslewering. Meeste mense wil die beste wees in wat hulle doen. Ons voordeel is dat ons ‘n ruimte kan skep waarin mense kan spesialiseer. Jy kan dus ‘n vakgebied in die reg beoefen waarvan jy hou. ”
Hy breek ook ‘n lansie vir besonderse personeel, veral met verwysing na die vrouepersoneel wat die administratiewe ruggraat van die firma is.
Buiten uitstekende, gespesialiseerde diens, is Rauch Gertenbach se direkteure ook trots daarop dat hulle gemeenskapsbetrokkenheid ‘n kenmerk van hulle liefde vir Mosselbaai en sy mense is.
Byna sonder uitsondering, is daar gedien op skoolbeheerligame en die bestuurskorps van onder meer diensorganisasies soos die Tafelronde, Mosselbaai se boot- en seiljagklub, die besigheidskamer en dies meer. Hierdie betrokkenheid in die gemeenskap gaan inderdaad sover terug as die grondleggers van die firma, die Scholtze wat ook hulle merk in die Mosselbaai en omstreke gemaak het.
Ten slotte, is die direkteure dit eens, dat die pad vorentoe een van verdere groei is – om die beste en die grootste regsfirma in die Suid-Kaap te wees.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'