Advertorial Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Meer as 15 sakeondernemings het hul ontstaan uit die Outeniqua Family Market wat al 10 jaar bestaan. Die mark vier môre, Vrydag 19 November, sy 10-jarige bestaan.
Die mark wat een van die gewildste toerismebestemmings op 'n Saterdag is, verskaf talle direkte en indirekte werksgeleenthede. Dit het oor die jare gegroei van sowat 50 stalletjies tot die huidige 120 stalletjies. In Desember styg dit tot 210 stalletjies.
Deon Mocke, die eienaar van die mark, het 'n paar dae voor die 10-jarige herdenking gesê daar was oor die jare verskeie uitdagings soos byvoorbeeld Covid-19-regulasies toe die mark vir 'n paar weke gesluit was. Dit is nou weer oop.
Hy het voor die vestiging van die mark wyd navorsing oor 'n tydperk van byna twee jaar gedoen en selfs in die buiteland gaan kyk hoe funksioneer sulke markte.
Hy is nie verbaas oor die groei nie. Tot voor Covid-19 het hulle gemiddeld 400 000 tot 500 000 besoekers per jaar gelok. Dit was sowat 160 000 motors per jaar.
Deon Mocke, eienaar van die Outeniqua Family Market.
Die meeste op een dag was op 30 Desember 2019 toe daar 9 005 motors op verskillende tye van die dag was en sowat 27 000 besoekers besoek gebring het. Daardie dag is 270 liter melk vir koffie gebruik.
Video: Familiemark word 10 jaar oud
Die mark neem in gewildheid toe en daar is 'n waglys van meer as 300 mense wat stalletjies wil open. Daar is bereken dat gemiddeld 330 werksgeleenthede op 'n Saterdag geskep word. Dit is egter nie net die werksgeleenthede op die mark nie. Die mark het 'n rimpeleffek en voorraad word van plaaslike mense gekoop.
Volgens hom is feitlik al die stalletjies winsgewend. Om daar te kan funksioneer moet 'n stalletjie geld maak. Van die aanvanklike doelwitte was om entrepreneurskap te bevorder en geld in George te hou. Daarin is geslaag.
Hy het gesê daar is verskeie redes vir die gewildheid en sukses. Dit is 'n toeristebestemming en stalletjie-eienaars lewer goeie, gasvrye diens.
Dit is amper soos 'n dorpsplein in die ou dae. Die terrein is ook netjies en skoon. Dit word juis nou weer opgeknap. Die bome skep 'n aangename en rustige atmosfeer waar mense kan ontspan. Lewendige vermaak word verskaf en die vioolspeler Lynette de Jager tree Saterdag op.
Theuns Jansen, wat al amper nege jaar by die mark werk, het gesê oor die jare het hy die mark sien groei. Dit lyk of die mense daarheen kom om te ontspan.
Die Outeniqua Family Market is een van die gewildste toerismebestemmings.
Deon Mocke, eienaar van die Outeniqua Family Market en Theuns Jansen wat al amper nege jaar by die mark werk. Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'