GEORGE SAKE NUUS - ‘n Aangename verrassing het studente van NMMU George-kampus na die lang wintervakansie begroet.
Opgraderingswerk as deel van die kampus se instandhoudingsprogram wat voor en tydens die vakansie begin is, het gesorg dat sport-en ander geriewe binne ses weke ‘n gedaanteverwisseling ondergaan het.
Pawiljoen
Een van die sigbaarste veranderinge is die bestaande pawiljoen wat met ‘n begroting van R450 000 binne en buite opgegradeer is.
Aan die buitekant het die pawiljoen ‘n algehele metamorfose ondergaan met die aanbring van ‘n sementvesel-bekleding met ‘n houtgrein-voorkoms in ‘n aardkleur.
Die dakplate is vervang en nuwe geute en afvoerpype van duursame wit PVC is ook geïnstalleer.
Twee 5 000-liter- watertenks is ook aangebring om reënwater op te vang.
Energiedoeltreffendheid word verseker deur twee 200 liter sonverhittingstelsels vir warm water.
Om estetiese en veiligheidsredes is alle bestaande glaspanele met sintetiese plate vervang.
Binne is die vloere met glyvaste rubber bedek wat geskik is vir sportsentrums, terwyl ou toilette vervang is met nuwes wat ‘n kleiner hoeveelheid water gebruik.
Die nabygeleë rugby- en tennisbaan-kiosks is ook opgradeer.
Beligting
Hoofmasbeligting by die pawiljoen is beveilig en die vier maste is weer opgerig met beter beligting vir die sokker- en rugbyveld. Areabeligting op die maste is ook verbeter vir die studente om met groter gerief na donker op die kampus te beweeg.
Koshuise
Oukraal- en Kiepersol-manskoshuise is binnekant teen ‘n koste van R170 000 opgekikker deur dit met twee komplementerende kleure te verf.
Al 68 kamers van die dameskoshuis, Outeniqua, spog ook met nuwe gordyne.
Alle lesinglokale en kampuswonings is deeglik skoongemaak en lyk nou van binne soos nuut.
Studentesentrum
Die nuwe Studentesentrum wat kort voor die wintervakansie oopgestel is, spog ook nou met ekstra geriewe soos ‘n houtdek sodat studente die buitelug en pragtige uitsig kan geniet. Die projek is gefinansier deur besparings aan die oprigting van die sentrum. Braaigeriewe is ook by die Studentesentrum opgerig.
Twee kantore en ‘n komiteekamer is vir gebruik van studenteraadslede en studenteleiers ingerig.
Ventilasie en ingang
Tien waaiers en plafonroosters is in lesinglokale op die kampus geïnstalleer vir beter lugsirkulasie.
Die ingang tot die George-kampus het nou ‘n volwaardige NMMU-karakter. Die volledige naam en NMMU-embleem pryk nou naas dié van Saasveld. Laasgenoemde dui op die adres (Saasveldweg 1), asook die ryk geskiedenis van die George-kampus wat sy ontstaan aan die destydse bosbou-kollege op Saasveld te danke het.
Omheinings by die administratiewe hoofkantoor is verwyder om die beweging van bokkies en ander diere wat dié natuur-kampus met personeel en studente deel, te vergemaklik.
Die George-kampus se hek spog nou met ‘n volwaardige NMMU-karakter.