GEORGE NUUS - Nog ‘n sakekamer het by die AHi Wes-Kaap aangesluit. Die Klein Karoo-sakekamer wat die gebiede van Uniondale, Haarlem en Avontuur bedien, is die nuutste lid van die AHi Wes-Kaap.
Bestuurslede van die Klein Karoo-sakekamer is verlede Woensdag 27 Junie, tydens ‘n geleentheid in George by die Afrikaanse Handelsinstituut (AHi) Wes-Kaap se kantore deur dr. Willie Cilliers, voorsitter van die AHi Wes-Kaap, verwelkom.
Die AHi Wes-Kaap funksioneer as ‘n outonome organisasie met ‘n direksie. ‘n Formele ooreenkoms vir finansieringshulp deur Trias, ‘n internasionale ontwikkelingsorganisasie wat bande het met die Vlaamse regering in België, en die AHi Wes-Kaap is vroeër vanjaar onderteken. Die AHi Wes-Kaap het ten doel om entrepreneurs te bevorder.
Volgens Cilliers is die doel is om nuwe geleenthede te skep vir klein sakeondernemings asook bestaande ondernemings te help met groei. “Ons wil dit doen deur die ontwikkeling en uitbouing van kleinsake geleenthede.” Voorts om ‘n bydrae te lewer vir die bemagtiging en skepping van nuwe sakekamers.
Tydens die geleentheid waar die Klein Karoo-sakekamer formeel as die nuutste lid verwelkom is, het Cilliers gesê die vraag is hoe mense se drome in sakegeleenthede omgeskakel word. Dit gaan oor die skep van nuwe geleenthede.
Om dit reg te kry is daar uitdagings. So byvoorbeeld moet die verskillende regeringsfere soos die plaaslike regeringsfeer tot verantwoording geroep word as dit nodig sou wees. Sakekamers moet byvoorbeeld vir munisipaliteite vra om grond beskikbaar te stel vir kleinsakeondernemings.
Plaaslike sakekamers het ook ‘n verantwoordelikheid om te netwerk en opleiding aan lede te verskaf. Sakeondernemings in dorpe en streke moet met mekaar in verbinding gebring word.
As administratiewe rompslomp in die pad staan om nuwe geleenthede vir klein sakeondernemings te ontsluit, moet sakekamers help dat dit uit die weg geruim word.
Volgens Cilliers wil die AHi Wes-Kaap graag hoor wat sê en dink mense op grondvlak. Een van die uitdagings van kleinsakeondernemings is om mededingend te wees met groot sakeondernemings.
Kleinsakeondernemings moet bemagtig word. In die verband wil die AHi Wes-Kaap help deur byvoorbeeld een van sy vyf streekkantore. Dit gaan gedoen word deur die beskikbaarstelling van opleiding en advies.
Eerw. Andries Palmer, voorsitter van die Klein Karoo-sakekamer, het gesê die organisasie wil plaaslike sakeondernemings help om beter te presteer. Die sakekamer het sowat 100 lede en bestaan al drie jaar.
Daar word gekyk hoe om van die minderbevoorregte gemeenskappe te help hoe om uit armoede te kom.
Die sakekamer het besluit om by die AHi Wes-Kaap aan te sluit sodat hy by ‘n groter struktuur kan inskakel.
Belangstellendes wat by die AHi Wes-Kaap betrokke wil raak kan kontak:
• Die inbelsentrum: 086 999 0209
• WhatsApp-boodskapp stuur aan 063 755 2351
• Stuur e-pos service@ahiwp.org.za - Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'