GEORGE NUUS - 'n Nuwe inisiatief wat 'n verskil in die gemeenskap van George wil maak, die Business Café, trek aandag en is reeds volstoom aan die werk met die reëlings van sy volgende spreker, Mmusi Maimane.
Die organisasie het onlangs sy bekendstellings-geleentheid gehad en tydens die geleentheid was dr. Piet Croucamp, bekende politieke ontleder, die geleentheidspreker. Die geleentheid is deur verskeie mense bygewoon en was 'n groot sukses.
Dr. Dennis Farrell, die dryfkrag agter die inisiatief, het Maandag 31 Oktober bevestig Maimane is die volgende spreker.
Maimane is onder meer 'n voormalige DA-leier en die stigter en leier van 'n nuwe politieke party Build One South Africa (Bosa). Hy tree op 22 November in George op.
Die plan van die Business Café is om elke twee maande gespreksessies te hê met meningsvormers en Maimane is deel daarvan.
Sedert dit bekend geword het dat Business Café gestig is, het talle vrae ontstaan oor die inisiatief.
Farrell, 'n bekende sakeleier en ook 'n voormalige voorsitter van die George-sakekamer, het benadruk dit is nie 'n alternatiewe sakekamer nie. Dit is ook nie 'n sosiale netwerk of 'n spreekbuis vir individue en instansies nie.
"Ons wil vertroue in gemeenskappe bou en vestig. Voorts wil ons kyk na samewerking oor sake van gemeenskaplike belang in die breë George en die Tuinroete. Dit sluit alle leiers in."
Dr. Dennis Farrell
Dit het 'n lang aanloop. Hy is in Maart vanjaar deur gemeenskaps- en sakeleiers genader om by so-iets betrokke te raak. Hy het eers daaroor gaan besin en in Julie aangedui hy is gereed om dit verder te neem.
Dit het geen politieke konnotasie nie en enigiemand kan betrokke raak.
Die styl is informeel en dis 'n geleentheid waar mense mekaar kan leer ken. "Dis 'n inisiatief wat vloei uit die gevestigde sakeleiers in George. Ons wil mense interaksie gee tot verskillende opinies."
Daar word gekyk hoe 'n inklusiewe ekonomiese stelsel gebou en uitgebrei kan word. Kleiner groepsessies sal ook gehou word. Uitnodigings is reeds gestuur aan belang-hebbendes soos onder meer Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike regering. Die logo van die organisasie is 'n boom en dit simboliseer saamgroei en ontwikkel.
Mense wat meer inligting wil bekom kan 'n e-pos stuur aan businesscafe@alfaomega.co.za.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'