Gallery Sponsored Content
SAKENUUS - Die jaar staan einde se kant toe en daarmee saam, kom die behoefte om bestekopname te doen. ‘n Terugblik op ‘n jaar se aktiwiteite is ‘n noodsaaklikheid, veral ná die rimpeleffek wat die Covid-19-pandemie sedert 2020 veroorsaak het. Dat die wêreld ingrypend verander het, is onteenseglik.
Iets wat egter nie verander nie, is ‘n goeie en betroubare naam wat die toets van tyd deurstaan het, danksy uitnemende diens.
Rauch Gertenbach Prokureurs kyk egter veel verder terug die verlede in as bloot ‘n jaar of twee. Dié bekende regsfirma gedenk in 2022 hul eeuwording.
In aanloop tot hierdie besonderse mylpaal, nooi Rauch Gertenbach die gemeenskap om saam met hulle op ‘n geskiedkundige reis te gaan wat sy vertrekpunt in 1922 het, toe die firma sy beslag gekry het.
Fotogalery: Rauch Gertenbach vier eeuwording in 2022
Die uitdagings wat 2020 meegebring het ten spyt, maak Rauch Gertenbach verlede jaar, op die vooraand van hul eeuwording, twee satellietkantore – een in Hartenbos en ‘n ander in Danabaai oop.
Om die kroon te span, is die firma vanjaar ook bekroon met ‘n gesogte PMR.africa-toekenning vir uitnemendheid.
Formidabele stigter
Uit die aard van die saak, met ‘n geskiedenis wat oor ‘n 100 jaar strek, het verskeie formidabele karakters ‘n rol in die firma se vorming gespeel. Danksy familielede en voormalige werknemers se geskrifte, is hierdie verloop geboekstaaf.
Die reis terug in die geskiedenis van Rauch Gertenbach, begin by JJ Scholtz, ‘n invloedryke prokureur wat ook sy merk op die breër ontwikkeling van Mosselbaai gemaak het.
Jacobus Johannes (JJ) Scholtz, is op 9 Oktober 1883 gebore. Sy pa, ds Gustav Adolf Scholtz dien as predikant op Hopetown, maar die gesin verhuis na Colesberg in 1889, ter wille van JJ, ‘n sieklike kind, se gesondheid.
Gedurende die Anglo-Boereoorlog (1899-1902), word JJ en sy pa in hegtenis geneem as Kaapse Rebelle. Beide beland in die tronk op Colesberg. JJ word weens sy jeug vrygespreek, maar sy pa ervaar geweldige ontberinge wat uiteindelk sy lewe kos. ‘n Krygshof spreek JJ vry, maar ontneem hom vir vyf jaar van stemreg.
JJ word ‘n leerlingprokureur by Schutz en De Jager op Colesberg. In 1906 word hy as prokureur en notaris toegelaat en begin op 1 Maart 1907 in Boshof, Vrystaat praktiseer.
Met die Scholtz-gesin se verhuising na Mosselbaai, verkoop JJ sy prokureursfirma in Boshof. Hy begin dieselfde jaar, in 1922 toevallig ook op 1 Maart, ‘n prokureursfirma op Mosselbaai.
Hier speel hy ‘n leidende rol in die sakewêreld en sosiale lewe.
Hy dien onder meer op die skoolrade van beide Laerskool Park en Hoërskool Punt. As lid van die stigtersvereniging van takke van die Nasionale Party, dien hy etlike jare as takvoorsitter vir die party op Mosselbaai.
In 1933 word hy Volksraadslid vir Mosselbaai en dien as gekose lid vir spoorweë en hawens. Tydens sy dienstyd, word ‘n nuwe spoorwegstasie op Mosselbaai gebou.
As ‘n kranige sportman, blink hy uit in tennis en stig die rolbalklub. Ook die vooruitgang van die rugbyklub gedy onder sy leierskap. Hy dien later ook as verteenwoordiger vir die Suid-Westelike Distrikte Rugbyunie op die Suid-Afrikaanse Rugbyraad.
In 1948, tree hy uit as prokureur, maar word dadelik verkies as voorsitter van die Afdelingsraad waar hy ‘n groot bydrae lewer tot die finansiering van paaie en aankoop van masjinerie.
Op 12 Junie 1959, eis ‘n hartaanval JJ Scholtz se lewe. Hy word in die begraafplaas by die Punt te ruste gelê.
JJ Scholtz en eggenote.
Ewe knap broer
Danksy die vinnige groei van sy prokureursfirma op Mosselbaai, nooi JJ sy jonger broer, Robert Michael (Robbie) Scholtz, in daardie stadium woonagtig op Bethlehem waar ook hy as burgemeester dien, om in 1923 by die firma op Mosselbaai aan te sluit. In Bethlehem het Robbie as prokureur en notaris gewerk
Gou maak die firma Scholtz en Scholtz in Mosselbaai en omgewing vir hulleself naam.
Soos sy broer, staan Robbie sy skoene in diens van die breër gemeenskap met oorgawe vol.
Robbie dien as president van die SWD Rugbyunie en ook as lid van die SA Rugbyraad.
Vir 17 jaar, dien hy op die skoolkomitee van Laerskool Park en dra die burgemeestersketting van Mosselbaai vir 20 jaar. Hy was onder meer lewenslange ere-president van die Kaaplandse munisipaliteit en lid van die verenigde munisipale vereniging van Suid-Afrika. Sy leierskap vind ook uitdrukking in ander diens- en sportorganisasies.
Robert Michael Scholtz is op 7 November 1955 op Mosselbaai oorlede.
Ryk geskiedenis
“Rauch Gertenbach bly toegewyd aan ons verantwoordelikheid tot die gemeenskap van die Suid-Kaap en is dankbaar aan die streek vir die ondersteuning wat ons as firma die afgelope 99 jaar al geniet,” sê Basson Piek, die firma se hoof operasionele bestuurder.
In die aanloop tot die eeuwording, volg ‘n reeks artikels om Rauch Gertenbach se ryk geskiedenis en die karakters wat daaraan help bou het, toe te lig.
Besoek Rauch Gertenbach se webtuiste vir meer inligting by www.rgprok.co.za.
Hulle hoofkantoor is geleë in Kerkstraat 10, Mosselbaai. Kantore ook te George, Hartenbos en Danabaai.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'