Verlede Woensdag het Standers verskeie instansies besoek en geskenkpakkies uitgedeel, motiveringstoesprake gehou en Madiba se verjaardag met jonk en oud gedeel. In samewerking met die George-lughawe het Standers, Brenda Vorster (lughawebestuurder), 'n munisipale-afvaardiging en personeel van ACSA besoek afgelê by Mzoxolo Primêr. Hier is musse, serpe, truie en skoene aan 1 168 kinders oorhandig. Toppresteerders van dié skool het ook elk 'n spesiale geskenk-pakkie ontvang.
In sy toespraak aan die leerders het Standers gesê hulle moet daarna strewe om hulself en ander te bemagtig en diens te lewer aan die gemeenskap. "Doen aan ander soos jy wil hê ander aan jou moet doen. Streef daarna om altyd beter te doen."
By JJ Watson Tehuis vir bejaardes het Standers koek en tee saam met die inwoners geniet. Hy het aan hulle gesê dat die gemeenskap salueer die senior burgers vir die bydrae wat hulle gelewer het, vir die toegewydheid wat hulle getoon het en die wysheid wat hulle geopenbaar het.

Die uitvoerende burgemeester, Charles Standers, het koek saamgeneem en gaan tee drink by die bejaarde inwoners van die JJ Watson Tehuis in George-Suid. Hier ontmoet Joan Filmalter die burgemeester.