Advertorial
SAKENUUS - Laerskool George-Suid het groot nuus om met die George-gemeenskap te deel: Die gewilde Loeriefees vind weer vanjaar einde Oktober plaas, en beloof om 'n onvergeetlike hoogtepunt op die kalender te wees.
Die tweedag-fees van 31 Oktober tot 1 November is nie net 'n geleentheid vir kuier en vermaak nie, maar dien ook 'n belangrike doel.
Die opbrengs van die Loeriefees gaan aan die Kos vir Kinders-projek, wat verseker dat kinders in ons gemeenskap daagliks 'n volwaardige maaltyd kan ontvang. Só word elke kaartjie, elke bord kos en elke aktiwiteit 'n belegging in die toekoms van 'n kind.
Een van die groot trekpleisters elke jaar, is 'n opwindende valskermsprong. Drie van die skool se eie personeel sal Vrydag voor die fees met valskerms op die skoolterrein land - tot groot opwinding van leerders en ouers. Hierdie dramatiese landing is deel van die aankondiging van die wenners van die Veerlose Vlerke-boekieverkope. Die derde valskerm sal ook neerdaal om die gelukkige wenner van die Hyundai Exter aan te dui - 'n prys wat groot afwagting in die gemeenskap wek.
Die Loeriefees bring jonk en oud bymekaar. Van stalletjies vol handgemaakte produkte en items, tot heerlike kos en lewende musiekoptrede - daar is iets vir almal. Sport- en speletjiesaktiwiteite vir kinders sorg vir hope pret, terwyl ouers en vriende die kans kry om saam te ontspan en fees te vier.
"Die Loeriefees is vir ons 'n viering van hoop, samehorigheid en dankbaarheid," sê die skoolhoof, Sas du Plessis. "Ons nooi elke gesin, besigheid en inwoner van George om deel te word van hierdie spesiale dag."
Kom kuier saam - vir die pret, vir die mense en vir die kinders van George.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’