Sponsored Content
GEORGE SAKENUUS - Dit is ‘n goed gevestigde beginsel in ons reg dat ‘n ouer die regsplig het om na hul kind(ers) se onderhoud om te sien.
Dit is verder ook ‘n welbekende gemeenregtelike beginsel dat waar ouers nie in staat is om hul kind(ers) te onderhou nie, die regsplig vir onderhoud mag oorskuif na die grootouers.
Die vraag of hierdie regsplig van ‘n grootouer om hul kleinkind(ers) te onderhou ook oordra na die grooutouer se boedel is ‘n vraag wat steeds oop bly vir debat.
In die aangeleentheid van Phillipa Susan van Zyl NO v Getz het die appellant aksie ingestel teen haar oorlede oupa se boedel. Gedurende sy leeftyd het hy die appellant onderhou tot die mate wat haar Vader dit nie gedoen het nie en haar Moeder dit nie kon doen nie. Die appellant is ‘n psigiatriese pasiënt met bipolêre versteuring, ligte intellektuele versteuring en outisme.
Toestande wat, volgens die appellant, onderhoud vereis wat haar maandelikse staatsongeskiktheidstoelae nie dek nie. ‘n Eis vir onderhoud teen haar oupa se boedel is deur die eksekuteur afgekeur op grond van die gemeenregtelike beginsel wat bepaal dat ‘n grootouer se boedel geen aanspreeklikheid het vir die onderhoud van ‘n kleinkind nie. Die appellant het daarom gepleit dat die gemeenregtelike beginsel ongeldig verklaar word and in die toekoms gelees sal word om aanspreeklikheid teen ‘n grootouer se boedel ten gunste van ‘n kleinkind in te sluit.
Die hof moes in hierdie aangeleentheid oorweeg of die gemeenregtelike beginsel ontwikkel moet word, asook die toepaslikheid van sodanige ontwikkeling. Die vraag of die gemeenregtelike beginsel ontwikkel moet word is een wat geweeg moet word teen die impak van die beginsel op die normatiewe struktuur van die Grondwet. Die appellant het geargumenteer dat die beginsel inbraak maak op die individu se reg tot menswaardighed en gelykheid. Sy het verder aangevoer dat die beginsel nie die kind se beste belange in ag neem en respekteer nie.
Die appelhof het in hierdie aangeleentheid teen die ontwikkeling van die gemeenregtelike beginsel om aanspreeklikheid van onderhoud teen ‘n grootouer se boedel ten gunste van ‘n kleinkind in te sluit. Die hof het voorgehou dat sodanige ontwikkeling in kontras sal staan met die testateur/ testatrise se reg om volgens sy/haar eie wil sy/haar bates te bemaak. Die ontwikkeling van hierdie beginsel sal die deur vir onsekerheid wawyd oop maak. Dit sal die belangrikheid van ander eise teen die boedel wegneem.
Na aanleiding van bogemelde bespreking en die beslissing in die aangeleentheid van Phillipa Susan van Zyl NO v Getz, is dit duidelik dat die boedel van ‘n grootouer nie belas sal word met die aanspreeklikheid van onderhoud ten gunste van ‘n kleinkind nie. Die gemeenregtelike beginsel, soos hy daar staan, erken dat die ouer van ‘n kind die primêre versorger is. Slegs waar die ouer van ‘n kind nie in staat is om die kind te onderhou nie, sal sodanige plig oorgedra word na ander familielede.
Kontak gerus vir Kelly Fourie-Barnard vir meer inligting by 044 601 9900 of office@rgprok.com.
Kelly Fourie-Barnard
Volg ons aanlyn:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'