GEORGE NUUS - Die AHi Wes-Kaap is omvorm tot 'n maatskappy sonder winsbejag. Die eerste direksievergadering het Vrydag 23 Maart plaasgevind. Daarmee betree die AHi Wes-Kaap 'n nuwe era.
Die stigtingsdirekteure van die AHi Wes-Kaap is dr. Willie Cilliers (besturende direkteur ,voorsitter), Ilse Lochner van Clanwilliam-sakekamer, Philip van Zyl van Tygerberg-sakekamer, Ben Dell van Heidelberg-sakekamer en Christo van der Rheede, huidige adjunkhoof van AgriSA. Van der Rheede is ook 'n vorige uitvoerende hoof van die AHi.
Die nasionale AHi het reeds einde September sy naam na die Small Business Institute (SBI) verander.
Vrae het daarna ontstaan oor die pad vorentoe en hoe die gebeure die AHi Wes-Kaap raak. Die AHi het onafhanklik bly voortbestaan.
Cilliers sê in 'n verklaring die stigting van die nuwe maatskappy is daarop gerig om dit meer diensgedrewe te maak. Tydens die eerste direksievergadering is besin oor die pad vorentoe.
Cilliers het in November België besoek. Hy het kontak gehad met verteenwoordigers van die Unie van Zelfstandige Ondernemers (Unizo). Hy glo die Unizo-model kan ook in Suid-Afrika toegepas word.
Unizo se missie is om entrepreneurs wat hul eie inkomste verdien te help deur byvoorbeeld advies en van inligting te voorsien.
Finansiering is beskikbaar gestel deur die Vlaamse regering en word bestuur deur TRIAS in België en 'n Suid Afrikaanse kantoor in Johannesburg. TRIAS, 'n internasionale ontwikkelingsorganisasie is betrokke by 23 soortgelyke projekte in die wêreld. TRIAS se hoofkantoor is in Brussels.
TRIAS SA het vyf jaar gelede betrokke geraak in Suid-Afrika.
Van die geld is voorheen aangewend tot voordeel van sakekamers in George en Saldanha. Sedert die begin van die jaar is alle aktiwiteite van TRIASSA in die Wes-Kaap onder die vaandel van die AHi Wes-Kaap.
"Ons doel is om nuwe geleenthede te skep vir klein sakebesighede asook bestaande besighede te help met groei in hul besighede. Ons wil dit doen deur die ontwikkeling en uitbouing van kleinsake geleenthede," sê Cilliers.
Verskeie projekte is in die pyplyn waaronder 'n 24/7 inbelsentrum wat teen 1 Mei in bedryf gestel sal word.
Opleiding, mentorskappe, netwerk geleenthede en hulp met finansieringsaansoeke gaan verskaf word.
Voorts sal afgetrede kundiges help met navorsing vir klein sakebesighede.
Gesprekke is reeds met die Wes-Kaapse provinsiale regering gevoer oor die projekte. "Hulle het positief reageer," sê Cilliers.
"Ek is opgewonde oor die pad vorentoe. Daar is geen twyfel by my dat dit 'n groot impak gaan hê op die ekonomie van elke dorp in die Wes-Kaap. Geleenthede word geskep binne 'n inklusiewe ekonomie waar ons deel kan word van die oplossings in Suid-Afrika. Dit is soos byvoorbeeld werkskepping."
Vir bedryfsoorwegings word die AHi Wes-Kaap in vyf streke verdeel:
- Tuinroete/Karoo-streek
- Overbergstreek
- Wynlandstreek
- Kaapstad metropool en
- Weskusstreek
Die ideaal is dat elke streek uiteindelik sy eie kantoor sal hê wat uit 'n streekoogpunt sal omsien na die belange van die sakekamers in die dorpe. Elke streekkantoor sal dienste lewer aan sy eie streek. Die AHi Wes-Kaap se hoofkantoor is in George.
Vir meer besonderhede oor die AHi Wes-Kaap besoek gerus hul webtuiste www.ahiwp.org.za of stuur 'n e-pos aan info@ahiwp.org.za.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'