GEOGE NUUS - Die gaste by Arbeidsbediening Tuinroete se jaarlikse sakeontbyt verlede Donderdagoggend, 5 Oktober, het 'n inspirerende oggend geniet met sprekers wat getuig het van die impak wat dié organisasie op mense in die werkplek het.
Die ontbyt is in die rustige atmosfeer van Victoriabaai B&B aangebied.
Hennie Coetzee, bestuurder van die JJ Watson-tehuis vir bejaardes, het getuig dat die weeklikse besoeke van 'n dienswerker van Arbeidsbediening, Breggie Barnard, 'n ingrypende verandering onder werknemers en die atmosfeer by die tehuis meegebring het. Interpersoonlike verhoudinge het handomkeer verander.
Barnard het vertel dat sy elke week van die tehuis oor die straat na Watson-slaghuis stap waar tussen 30 en 40 werknemers na haar weeklikse boodskap luister. Daarna ry sy na die Tikketai-verpakkingsaanleg buite Pacaltsdorp waar sy die Bybelse boodskap met tot 60 mense deel.
"Vir baie is hierdie besoeke die enigste tyd wat hulle uit die Woord bemoedig word," het sy gesê.
Arbeidsbediening het ook 'n plaasbediening in die landelike omgewing. 'n Werknemer van die Skimmelkrans-boerdery, Hendrik Nkanyane, het sy verhaal vertel van hoe sy lewe positief geraak is en hoe hy en sy gesin nuwe hoop gevind het.
Stefan le Roux (naasregs), die gasspreker by Arbeidsbediening Tuinroete se sakeontbyt, by die bestuurslede, van links: Mike Burnard, Floors Meyer (voorsitter), George Kuyler en Victor le Roux. Foto's: Alida de Beer
Die hart van 'n stad
Ds. Floors Meyer, Arbeidsbediening se bestuursvoorsitter, het gesê die markplek en ekonomie is die hart van 'n stad en as die hart swaarkry, kry die stad swaar.
Die organisasie se missie is om deur evangelisasie in die markplek mense te bevry van 'n slagoffermentaliteit en gesonder onderlinge verhoudings te bewerkstellig, wat uiteindelik 'n positiewe impak op die besigheidsomgewing het. Hulle werk in vier sektore: Handel en nywerheid, owerheid, die landbou en onderwys.
Arbeidsbediening Tuinroete het 19 diens-werkers wat weeklikse besoeke aan deel-nemende besighede bring. Die organisasie bereik tans bykans 370 mense. George is een van 12 dorpe waar die organisasie aktief is.
'n Bedieningsleier van dia-LOGOS in George, Stefan van der Berg, was hoofspreker by die geleentheid. Hy het gesê daar is 'n verskuilde geleentheid in elke probleem, ook in die werkplek waar personeelverhoudings soms groot uitdagings aan werkgewers bied, maar die "moeilike mense" in 'n organisasie het gewoonlik enorme potensiaal.
Arbeidsbediening se evangelisasie in die werkplek is hier van kritieke belang om tot werknemers en werkgewers te spreek. Die optrede van gelowiges in die werkplek, veral wanneer dinge moeilik raak, moet getuienis lewer van hulle geloof.
"Kom ons gee ons alles daar in die markplek soos Jesus sy alles vir almal gegee het," het hy gesê.
Stefan le Roux (links) by die drie ander sprekers, Hennie Coetzee, Hendrik Nkanyane en Breggie Barnard.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’