TUINROETE NUUS - Die landbousektor moet meer toeganklik wees vir die jeug in die Wes-Kaap, met meer landbouskole en 'n groter hoeveelheid landbouvakke in bestaande skole. Só het die Wes-Kaapse minister van landbou, Ivan Meyer, gesê tydens 'n virtuele seminaar van Agri Wes-Kaap verlede Woensdag 19 Mei.
Die seminaar het die afkondiging van die wenner vir die Agri Wes-Kaap Santam Landbou Jongboer van die Jaar-kompetisie, wat daardie aand in die Paarl plaasgevind het, voorafgegaan.
Volgens Meyer moet die breër landbousektor versterk word met voorligting en ondersteuning om internasionaal met hul produkte te kan meeding. "In die res van die wêreld kry baie van die boere subsidies," het Meyer gesê.
Hy het landelike veiligheid en die Wes-Kaapse ekonomie as 'n kernfokus geïdentifiseer, met marktoegang vir die uitvoer van produkte as 'n prioriteit. Aldus Meyer word 50% van alle wynproduksie in die Wes-Kaap uitgevoer.
"Indien ons dit wil vermeerder is dit vir ons van kritieke belang om ons marksegment in daardie sektor verder uit te bou," het hy gesê.
Meyer het bygevoeg dat 50% van alle landbouprodukte wat in Suid-Afrika verbou word, vanuit die Wes-Kaap kom. Hy het verder gesê klimaatsveranderinge speel 'n baie belangrike rol, en het verwys na die ergste droogte van die afgelope 100 jaar waaronder boere steeds gebuk gaan.
Dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van landbou was 'n gasspreker tydens die seminaar.
Die president van Agri SA, Villiers Loubser, het gesê een van die oogmerke van die Agri Wes-Kaap Jongboerkomitee is om die volgende generasie landbouers te motiveer en die bedryf te voed met jongboere wat weet hoe blink die toekoms van die landbou is: "Landbouers wat met entoesiasme vorentoe gaan, vat hele gemeenskappe saam met hulle. As jy entoesiasties is oor die bedryf waarin jy is of die werk wat jy doen, gaan jy ander maklik inspireer."
Derec Giles van Uniondale en sy vrou, Charmaine, met sy sertifikaat tydens 'n glansgeleentheid verlede Woensdagaand in die Paarl. Giles was een van vyf finaliste vir die Agri Wes-Kaap Santam Landbou Jongboer van die Jaar-kompetisie.
Wes-Kaap se wenner
'n Appel- en peerboer van die Witzenberg Vallei in Ceres, Alexander Gibson (32), is verlede Woensdagaand 19 Mei tydens 'n glansgeleentheid in die Paarl as die Agri Wes-Kaap Santam Landbou Jongboer van die Jaar aangewys.
Uniondalers het styf duim vas gehou vir hul finalis in die kompetisie, Derec Giles van Dwarsfontein, wat onder die topvyf geëindig het. Die ander drie deelnemers was Jo-Andra Cloete Greegory van Joostenbergvlakte, Floris Steenkamp van Ceres en Kleinjan Teubes van Vredendal.
Giles het verlede Donderdag vanuit die Boland laat weet dat dit vir hom 'n geweldige eer was om aan die kompetisie deel te neem.
"Die beoordelaars het vir my en my vrou gesê ons is 'n groot inspirasie. Ek is steeds bewoë. 'n Mens kom nie van waar ons was, tot waar ons nou is, sonder spesifieke mense wat die Here op jou pad sit nie," het Giles gesê.
Alvorens Giles en sy vrou terug gekeer het na Uniondale, het hulle eers 'n paar Kaapse hondetelers besoek. Giles teel met honde en boer met skape, kalwers en volstruise.
PF Theron (links), voorsitter van die Agri Wes-Kaap Jongboerkomitee, en Ivor Price (regs), die gesprekleier vir die dag, saam met hul borg, Arno Cloete van FNB.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'