TUINROETE NUUS - Johan Selisa is aangewys as die Agriwerker van die Jaar-kompetisie in die Tuinroete. Selisa het beide die kategorieë vir algemene werker en agriwerker gewen. Hy is vereer tydens die George-landbouskou se galafunksie op 20 September.
Die kompetisie was vanjaar straf met 14 plase en 75 werkers wat deelgeneem het, volgens Christo Fourie, visepresident van die skou en ook streekkoördineerder van die Agriwerkerskompetisie.
James Robertson van Rooiheuwel-plaas het die toekenning vir die beste presterende plaas ontvang.
"Die kompetisie is deel van die George-landbouskou se visie om terug te ploeg in landbou en die werkers van die Eden-distrik. Ons ekonomie word gedryf deur landbou en sonder ons agriwerkers kan geen plaas of land voortbestaan nie. Ons is trots op al die deelnemers en die wenners," het Fourie gesê.
Shoprite en Cell C het die kompetisie geborg en dit is in samewerking met die Wes-Kaapse departement van landbou aangebied. Agriwerker-kompetisies word in 16 streke gehou voordat die algehele wenner vir die provinsie in November aangewys word.
Die wenners in die ander kategorieë is soos volg:
- Lizl Steinberg - Administratief
- Clyde Martins - Besproeiingspesialis
- Hesta Gertse - Diereproduksie
- Lloyd Mungadze - Junior bestuur
- Siphiwe Masilela - Middel bestuur
- Veronica Terblanche - Sosiale ontwikkeling
- Pieter Levendal - Tegniese operateur
- Aron Qeqe - Trekker drywer
- Anitta Maqashalala - Voorvrou
- Siyambuka Gantsu - Beste potensiaal
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'