LANDBOU NUUS - Die droogte in groot dele van die Wes-Kaap is nog lank nie gebreek nie en die herroeping deur die regering van die droogte as ‘n nasionale ramptoestand is ‘n skok.
Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, sê die droogte in die Wes-Kaap is ‘n enorme ramp wat die landbousektor sedert 2015 reeds miljarde rand gekos het.
Die Nasionale Rambestuursentrum het gister aangekondig dat die droogte nie meer rampstatus geniet nie en dat die fondse vir Covid-19 aangewend gaan word.
Hoewel wye en goeie reën die afgelope paar weke in groot dele van die provinsie geval het, het die ergste droogtegeteisterde gebiede min tot geen reën gehad nie.
Strydom sê om die ramptoestand te herroep, dui daarop dat die regering min empatie met die landbousektor het.
“Agri Wes-Kaap verstaan die nood wat Covid-19 teweeg gebring het, maar die nood van die droogte kan nie misgekyk word nie. Talle produsente se oorleefvermoë is reeds vir jare onder druk, en ons kyk nou na die onvermydelike realiteit dat produsente nie meer die finansiële uithouvermoë het om die droogte verder die hoof te bied nie. Hulle posisie is vererger deur onvoorsiene uitgawes om aan Covid-19 regulasies te voldoen. Dit het alles ‘n invloed op indiensneming op plase en die ekonomie van die landelike gebiede,” sê hy.
Strydom sê produsente van langtermyngewasse, soos vrugteboorde en wingerde, asook wild- en volstruisprodusente, is reeds van regeringshulp uitgesluit terwyl dit juis hulle is wat dit krities nodig het. Agri Wes-Kaap kan danksy finansiële bydraes en voerskenkings aan die Agri Wes-Kaap Droogtehulpfonds ondersteuning aan veeboere bied, maar daar is geen hulp vir produsente wat al honderde hektare wingerd en boorde moes uittrek nie.
Hy sê die landbou was hoopvol dat die R500 miljoen wat Minister Tito Mboweni voorlopig in sy Februarie-begrotingsrede vir ramphulp aangekondig het, ook aangewend sou word om dringende hulp aan alle boere te lewer wat deur die droogte geraak word.
Strydom sê Agri Wes-Kaap is dankbaar vir die R25 miljoen se droogtehulp wat vroeër deur die Minister van Landbou, me Thoko Didiza, vir die provinsie goedgekeur is.
* Volgens Agri Wes-Kaap verkeer die Sentraal- en Klein-Karoo steeds onder vernietigende droogtetoestande en die damvlakke wys dit duidelik. Die Stompdrift- en Kammanassie-damme by Oudtshoorn staan onderskeidelik op 8.5% en 0.1 terwyl die Poortjieskloofdam by Montagu op 0% staan. Damvlakke in die Sentraal-Karoo lyk ewe benard met die Floriskraaldam by Laingsburg op 15,8%, die Leeugamkadam op 22%, die Oukloofdam by Prins Albert op 3.78%, die Gamkadam by Beaufort-Wes op 29,2% en die Gamkapoortdam op 0.11%. Die Matzikama-distrik van die Wes-Kaap het ook welkome reën gehad, maar die droogte in die gebied is fel en gaan meer as een seisoen van bo-gemiddelde reënval nodig hê om te herstel nie. Al die landboubedrywighede in hierdie streke het reeds erge skade gely. Dit sluit die volstruis-, vee-, wingerd-, vrugte-, groentesaad-, lusern- en lusernsaadproduksie in.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'