GEORGE NUUS EN VIDEO - Die Wes-Kaapse landbouminister, dr. Ivan Meyer, het by die George Landbouskou se opening vanoggend die belangrikheid van die provinsie se bydrae tot landbou beklemtoon.
Hy het by 'n manneontbyt gepraat voordat hy die lint geknip het om die skou amptelik oop te verklaar.
Meyer het gesê die Wes-Kaap lewer 45% van die land se landbou-uitvoerprodukte. Die provinsie beslaan slegs 10% van die land se totale oppervlak en het 10% van die bevolking, maar 26% van die land se plaaswerkers en 20% van kommersiële boere is hier.
Volgens die Buro vir Ekonomiese Ondersoek word die meerderheid van Suid-Afrika se landbouprodukte na die res van Afrika uitgevoer, maar Meyer se visie is dat die Wes-Kaapse regering boere sal help met toegang tot meer internasionale markte.
Ander prioriteite van die departement is opleiding en navorsing, ondersteuning van boere, die gebruik van nuwe tegnologie om die impak van klimaatsverandering op landbou te minimaliseer, en landelike veiligheid.
"My hart bloei as ek hoor van plaasmoorde en die brutaliteit daarvan. As ons ernstig is oor voedselsekuriteit, moet ons boere meer liefde ontvang. Daarom het ek #Virdieliefdevanlandbou geskep. 'n Interministeriële komitee is ook gestig wat op landelike veiligheid fokus. Fondse is reeds aan distriksmunisipaliteite toegeken om veiligheid op plase te bevorder."
Hy het gesê die Wes-Kaapse regering het vanjaar R1 miljard vir landbou begroot.
Egskeidings grootste faktor in mislukking van boerderye
Absa se senior landbou-ekonoom Wessel Lemmer het in sy aanbieding gesê opnames toon dat 80% van boerdery-ondernemings wat misluk, nie die paal haal nie weens egskeidings en verbrokkelende egpaarverhoudings. Faktore soos droogte, lae ekonomiese groei en beleidsondersekerheid het nie gekeer dat landbouproduksie groei nie. Negatiewe sentiment weens hierdie faktore loop hand-aan-hand met 'n laer randwaarde. Boere moet dit eerder as 'n geleentheid sien om uitvoere op te stoot as om daaroor wakker te lê.
Op plaaslike bodem is voedsel die vinnigste groeiende vervaardigingsektor, en dit is te danke aan die boere se bydrae. Suid-Afrika is die vierde goedkoopste voedselproduseerder danksy produktiwiteit in die landbou wat toeneem.
Lemmer het gesê hy voorsien dat Eskom se probleme gaan bly, maar dit skep geleenthede in die alternatiewe kragverskaffingsektor. Die groeikoers waarheen finansminister Tito Mboweni in sy herstelplan mik, sal slegs moontlik wees as energiebeskikbaarheid in 'n surplus is. Hy het gesê die landbou het 'n baie groot rol te speel in Mboweni se plan.
Skou tot Saterdag
Die skou duur tot Saterdag. Beoordeling in die landbouafdelings het reeds vandag begin en vanaand om 19:00 vind die kroning van Mej. en Mnr. Skou in die vermaaktent plaas met onder meer Andriëtte Norman wat as gaskunstenaar optree.
Die skouprogram bied 'n groot verskeidenheid vermaak, Afrikaanse sangkunstenaars, kompetisies, uitstallings en diereskoue.
Saterdagoggend om 10:00 word 'n vroueoggendprogram aangebied. Die volledige program is beskikbaar by www.georgelandbouskou.co.za.
Kyk 'n video hieronder.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'