TUINROETE | KAROO NUUS - Baie harte was gevul met dankbaarheid in die Kleynshoogte-area in die Klein-Karoo toe 'n konvooi van vrywilligers onder die vaandel van SA for Hope op Saterdag 25 Maart opgedaag het met 'n besending skenkings van noodsaaklikhede.
Pieter du Plessis, 'n direkteur van SA for Hope, sê 50 boere- en werkersgesinne is gehelp met kruideniersware, vars groente, gebottelde water, voer asook honde- en katkos.
"Hierdie area het agt jaar laas ordentlike reën gehad wat bydra tot grondwater om te kan plant, vir diere en menslike gebruik. Hulle is totaal afhanklik van reënwater. Daar het wel op 5 Maart 'n vinnige 53 mm geval wat pragtig vertoon in die plaasdamme, maar die ondergrondse watervlakke is nog nie gelig om boorgatwater te kan voorsien nie."
Besighede vanoor die Tuinroete, uit die Kaap asook van KwaZulu-Natal het saamgespan om van die uitreik 'n sukses te maak. Die weldoeners ry op hulle eie onkoste en hulle het donasies ingesamel of goedere aangekoop om hierdie gemeenskap van hulp te wees.
"SA for Hope is totaal afhanklik van die publiek en besighede se donasies en kan hierdie tipe uitreike slegs doen danksy die publiek. Ons het nie woorde om dankie te sê aan elkeen wat betrokke is nie. Met elke uitreik staan 'n mens verbaas wanneer die voertuie intrek met hulle vragte.
"Daar gaan so baie voorbereiding, organisering en reëlings in om alles in te samel, kospakkies op te maak, voertuie te reël en die finale logistiek af te handel. En dan kom die dag van die uitreik en ons voertuie trek een vir een in. Wat 'n absolute voorreg om dit te kan sien en ervaar, dat daar soveel mense is wat nog omgee en hoop vir andere bring. Dit hou 'n mens plat op die aarde," sê Du Plessis.
'n Konvooi van vrywilligers het die aflewering van skenkings in die Kleynshoogte-gebied gedoen.
Leerders van Laerskool George-Suid was ook op die uitreik. "Om die omgee en liefde by hierdie jongmense te sien, was is 'n riem onder die hart."
Volgens Du Plessis is SA for Hope se fondse getap na so 'n uitreik en moet hulle weer van voor af begin met insameling. Hulle kry geen staatshulp of ondersteuning van enige ander organisasies nie.
"Alles wat gebeur, kom van ons lede, die publiek en besighede af, wat SA for Hope nog meer merkwaardig maak. Brandstofpryse, elektrisiteit en kospryse skiet die hoogte in, beurtkrag kniehalter besighede, daar is 'n ongure ekonomiese klimaat in ons land, maar steeds steek ons lede hulle hande op en raak betrokke. Dit is mos nou 'n voorbeeld wat ons wil oordra in Suid-Afrika.
"Maak nie saak wat nie, ons sal nie ons boere, hul werkers en die gemeenskappe aan hul eie lot oorlaat nie."
Du Plessis het 'n beroep op mense gedoen om betrokke te raak. Hy sê 'n blikkie kos kan 'n verskil maak, n sakkie hondekos, 'n sak voer of 'n bottel water kan iemand help. "Selfs net jou glimlag en teenwoordigheid op so 'n uitreik maak 'n verskil."
Vir meer inligting oor wat jy kan doen om te help, bel Pieter du Plessis by 076 844 6435.
'n Groot hoeveelheid kruideniersware is afgelewer.
Die voer was baie welkom.
Spesiale geskenkies met benodigdhede is vir vroue opgemaak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’