NASIONALE LANDBOU NUUS - Bek-en-klouseer wat opnuut in Limpopo uitgebreek het, kan maklik na ander provinsies versprei. Die nuwe uitbreking volg op een vroeër vanjaar wat tot 'n totale verbod op die uitvoer van vleis en vesel vanuit Suid-Afrika gelei het.
Agri SA het Vrydag 22 November ernstige kommer oor die nasionale verbod op veeveilings as gevolg van die jongste voorvalle uitgespreek.
"Dit sal 'n negatiewe ekonomiese impak op die landbousektor hê," het Omri van Zyl, uitvoerende direkteur van Agri SA gewaarsku. "Die nasionale verbod op veeveilings kom op 'n tydstip wanneer boere reeds 'n tekort aan kontant ervaar. Dit plaas verdere druk op die volhoubaarheid van boere."
Hy meen daar is talle uitdagings oor die wyse waarop die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling (DALRRD) die siekte in die beheergebied bestuur.
"Ons verstaan die regering se besluit om 'n verbod op veilings te plaas terwyl die omvang van die uitbraak bepaal word. Maar dit is bloot 'n korttermyn oplossing om die impak van die siekte te versag," het hy gesê.
"Ons is bekommerd oor die potensiële verspreiding van die siekte na ander provinsies, wat katastrofies vir Suid-Afrika kan wees. Die opsporing van besmette diere is 'n saak van dringendheid."
Konsultasie en samewerking tussen alle rolspelers is noodsaaklik.
"Ons doen 'n beroep op alle belanghebbendes in die openbare- en privaat sektor om met die departement en Veeartsenydienste saam te werk ten einde die krisis aan te spreek," het Dan Kriek, president van Agri SA gesê.
"Die bestaande strukture binne georganiseerde landbou, soos die Nasionale Dieregesondheidsforum (NAHF) en lede van die Rooivleisindustrieforum (RMIF), is in die beste posisie om die situasie te bestuur."
Agri SA het 'n beroep op die departement gedoen om voortdurend met hierdie strukture saam te werk en om voldoende hulpbronne toe te wys om die nodige ingrypings toe te pas. Die aankondiging van die ontplooiing van opgegradeerde sekuriteitsmaatreëls langs die Limpopo-grens word verwelkom. Agri SA vra dat die verbod op veilings so spoedig moontlik sodra die nodige sekuriteitsmaatreëls dit toelaat, opgehef word.
Die Rooivleisprodusenteorganisasie (RPO) het hom ook sterk uitgespreek oor die veilings. "Die stop van die veilings in vier provinsies skep paniek en sal nie op hierdie stadium die probleem help oplos nie," het die organisasie op 19 November in 'n skrywe aan sy lede gesê.
"Die staat sal bek-en-klouseer met baie groter erns moet hanteer, want die wyse waarop dit sover vanjaar hanteer is, is onaanvaarbaar."
Voorts sê die organisasie dat die beweging van lewende hawe tot 'n minimum beperk moet word en dat alle verdagte gevalle onmiddellik by die staatsveearts aangemeld moet word.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'