AGRI NUUS - Sowat 2 350 plaaswerkers van die Klein-Karoo-omgewing het hierdie jaar die geleentheid gekry om 11 produksies en die Rivierbuurt by die Absa KKNK by te woon.
Mnr. Gerrit van Rensburg, Minister van Landbou en Landelike Ontwikkeling, het drie van hierdie produksies saam met die plaaswerkers geniet.
Volgens ’n verklaring van die Wes-Kaap Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling het Agri Klein Karoo, saam met die Absa KKNK die geleentheid moontlik gemaak as deel van ’n gehoorontwikkelingsprogram vir plaaswerkers en hul gesinne.
Hierdie program word sterk deur minister van Rensburg ondersteun. Hy glo dat "plaaswerkers die sout van die aarde is en in hulself ’n kosbare kultuur het wat nog ontdek moet word. Die blootstelling wat hulle by die Absa KKNK kry, maak dit vir hulle moontlik om hul eie kultuur verder uit te leef."
Van die plaaswerkers het "Journeys van die Hart" van die Kambro Diggers saam met die minister en Piet Lodder, hoofbestuurder, Agri Klein Karoo asook Brett Pyper, Uitvoerende Hoof, Absa KKNK bygewoon. Die Kambro Diggers bestaan uit agt akteurs met agtergronde wat wissel van werkloos tot plaaswerkervlak.
Hulle is ontwikkel as hoogs professionele en gewilde kunstenaars. Die produksie het verseker almal se hartsnare geroer met ’n diep en ernstige boodskap oor die betekenis van bestaan.
Louis Julies, ’n plaaswerker van Volmoed, De Denne, het gesê "die show praat met 'n man se hart" en hy en die ander plaaswerkers het die ondervinding terdeë geniet.
Diep beïndruk deur die gehalte van die produksie, het minister van Rensburg gesê: "Ek gaan beslis help om hierdie vertoning te bring na almal in die Wes-Kaap".
ARTIKEL: JAN GREYLING