Agri SA het gister saam met ander landbou-organisasies met die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, Me Tina Joemat-Pettersson, in Pretoria samesprekings oor die aangeleentheid gevoer.
Daar was konsensus dat dit ‘n sorgwekkende situasie is wat nie net aan die sektoraal vasgestelde minimum loon toegeskryf kan word nie.
Ander faktore wat hierop impakteer sluit in ‘n dryf van mededingende vakbonde om ‘n vastrapplek in die landbou te kry, ongelukkigheid oor die werkstatus van Lesotho-werkers teenoor dié van Zimbabwiërs as gevolg van ‘n gedifferensieerde benadering van die owerheid in dié verband, die opsweping van werkloses en selfs die inbring van persone wat nie ‘n direkte belang daarby het nie, vir doeleindes van politieke gewin asook onbevredigende dienslewering deur plaaslike owerhede in die plakkersgemeenskappe.
“Minimum lone in die landbou word in terme van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes vasgestel en daardie reëling word jaarliks in Maart afgehandel. In 2012 was die aanpassing bo inflasie. Nie Agri SA of enige ander landbou-organisasie het die wetlike bevoegdheid om namens landbouers ‘n loonaanbod in onderhandelinge, soos wat daar nou in die Wes-Kaap op aangedring word, aan te bied of oor te onderhandel nie. Agri SA kan nie deel wees van ‘n bedeling wat afbreuk doen aan ‘n geldende statutêre reëling en ordelikheid in die samelewing nie. Dit staan egter enige boer vry om met sy werkers oor loonreëlings te onderhandel. In dié verband het Agri SA in die verlede boere aangemoedig om, indien moontlik, hul werkers bo die minimumloonvlak te vergoed," sê Möller.
Teen die agtergrond hiervan was die verstandhouding waartoe Agri SA met Minister Joemat-Pettersson ooreengekom het dat:
- die owerheid se samewerking versoek moet word met die uitskakeling van opruiende uitsprake uit politieke oorde;
- intimidasie en die aanhitsing tot geweld deur toereikende polisie-optrede uitgeskakel moet word, insluitend die aanry van onbetrokkenes om getalle-ondersteuning aan die demonstrasie te gee;
- boere en werkers binne plaasverband die geleentheid gegee moet word om sonder buite-inmenging oor lone te onderhandel;
- ander ministers versoek sal word om dringend aandag aan nie-loonverwante griewe te gee; en
- die Wes-Kaapse regering versoek word om dringend aandag aan spesifieke diensleweringsprobleme op plaaslike regeringsvlak te gee.
Hierdie faktore word duidelik nie deur die leiers van die arbeidsonrus in ag geneem nie. Indien die protesoptrede wyer uitgerol word, kan dit in sekere bedryfstakke ‘n ernstig negatiewe invloed op landbouproduksie en -bemarking uitoefen. ‘n Direkte negatiewe effek daarvan op voedselsekerheid, werkskepping en handel – almal kritiese kwessies vir Suid-Afrika – kan in hierdie omstandighede voorsien word.
Uitgereik deur Agri SA.