"Ons vier 60 jaar van uitnemendheid," het dr. Ilse Trautmann, Hoofdirekteur: Navorsing en Tegnologie-ontwikkelingsdienste van die Departement van Landbou in haar verwelkoming gesê. Daardie uitnemendheid kan gemeet word aan die impak van navorsing wat hier op 150 ha weiding en sowat 400 melkbeeste gedoen word op die suiwelproduksie in die Suid-Kaap.
"Ons het passievolle landbouers en wêreld-klas navorsing nodig, sowel as 'n regering wat landbounavorsing ondersteun," het Gerrit van Rensburg, Wes-Kaapse minister van landbou en landelike ontwikkeling, gesê. "Ek wil hê dat landbouers hierdie navorsingsplaas as jul eie beskou en aandui aan watter navorsing julle 'n behoefte het."
Prof. Leopold van Huyssteen, provost en bedryfshoof van Stellenbosch Universiteit, het as gasspreker die toekoms van navorsing toegelig. Hy meen suiwelnavorsing sal faktore soos effektiwiteit, volhoubaarheid en presisie-boerdery in ag moet neem, en met betrekking tot voersekerheid: water, arbeid, afvalbestuur, ammoniakproduksie en hittestresbestuur.
"Presisie-landbou is belangrik: deur te meet weet jy, en kan jou diere so bestuur dat jy topproduksie kry." Hy meen nie alle navorsing hoef nuut te wees nie, maar bestaande kennis moet vir jou plaas verpak word sodat tegnologie geoptimaliseer kan word.
Annelene Swanepoel, dr. Philip Botha, prof. Robin Meeske en dr. Buks Olivier het tydens 'n kort paneelbespreking die huidige en toekomstige navorsing met betrekking tot grond, weiding, vee en voeding bespreek.
Volgens Swanepoel het navorsing op nasionale, provinsiale en departementele vlak wat na die boere deurgevoer word, voedselsekerheid en 10% groei in landbou ten doel. Bewaringslandbou en plantbeskerming is 'n belangrike deel van stelselontleding.
Botha het gesê weidingsnavorsing het optimale grond-, water- en weidingsbestuur op elke plaas ten doel. "Daar moet 'n interaksie wees tussen die navorsing en boere se kennis sodat navorsing versnel kan word."
Meeske het gesê die doel met die navorsing van die suiwelkudde is om melk vanaf weiding te optimaliseer. Dié navorsingsplaas is die enigste waar die omstandighede ooreenstem met die van plase in die distrik.
Volgens Olivier is een van die uitdagings om mense op te lei om te moduleer deur onder meer van rekenaar-modelle gebruik te maak om deel te vorm van die navorsing.
"Die belangrikste fokuspunt is watter ekonomiese impak navorsing op boerderye het," het Botha die bespreking saamgevat.
Behalwe vir navorsing is opleiding van personeel en opkomende of kleinskaalse boere belangrik. Die Wes-Kaapse departement van landbou werk ook nou saam met verskillende universiteite om waardevolle verder opleiding aan nagraadse studente te verskaf.

Van links: Dr. Buks Olivier, Annelene Swanepoel, dr. Phillip Botha, Gerrit van Rensburg,dr. Ilse Trautmann, prof. Leopold van Huyssteen en dr. Robin Meeske, sprekers tydens die Outeniqua Navorsingsplaas se 60ste herdenking-inligtingdag. Foto: Tisha Steyn
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete | Klein-Karoo nuus'