SUIDKAAP NUUS - 'n Grootse poging van die Herold-landbouvereniging om geld in te samel vir boere wat ly onder die voortslepende droogte, het 'n bedrag van bykans 'n halfmiljoen rand ingesamel.
Reëlings vir 'n dinee by Oppie Plaas Venue in Waboomskraal, wat onder die vaandel van Help Herold Boere in Nood van stapel gestuur het, is binne vyf weke getref en kaartjies vir 26 tafels is binne drie weke teen R10 000 per tafel verkoop.
Sedert die lot van die boere bekend gemaak is, het die borge en skenkings ingestroom.
Geld wat ingesamel word, sal gebruik word om voer, wat elders in die land geskenk word, na Herold te vervoer. Die vereniging betaal 60% van die koste, en die individuele boere die res van die koste van voer wat vir hulle bestem is.
Nog voor die dinee Donderdagaand begin het, het gholfspeler Louis Oosthuizen, Virbac en RuVasa elk R15 000 of meer geskenk. "Verdere skenkings stroom steeds in," sê Weeber Truter, wat met die hulp van die vereniging se komitee die nodige reëlings getref het om boere in die bedieningsgebied van Agri Herold Boerevereniging te help oorleef totdat reën uitkoms bring.
Hierdie reddingspoging het begin toe Truter bewus geraak het van duisende bale gras wat op die plaas Wilde Als buite Bloemfontein gesny word in voorbereiding vir die saamtrek van Angus Buchan vroeër vanjaar.
Die plaas behoort aan die voormalige Springbok-rugbyspeler, Ollie le Roux.
Truter het Le Roux gekontak en tot op hede het hy reeds meer as 2 000 bale gras aan Herold-boere geskenk. Ander skenkers, wat hierdeur gemotiveer is, stel steeds voer beskikbaar.
Le Roux was een van die sprekers tydens Donderdagaand se dinee en het sy geloofsgetuienis gelewer om die boere te bemoedig in hierdie tyd van waternood.
Nog 'n rugbyspeler, die 27-jarige CJ Stander, van 'n plaas buite George, wat tans vir die Britse- en Ierse Leeus rugby speel, het in sy boodskap aan veral die jong boere gesê hulle moet op God vertrou. Die hoofspreker van die aand was Omri van Zyl, uitvoerende bestuurder van Agri SA, wat ook 'n boodskap van hoop gebring het.
"Julle inspireer my. Julle is nou in die vuur, maar julle moet fokus. Ons gaan saam hier deur kom. Julle is in die regte bedryf: miljarde mense in Afrika moet eet, en Suid-Afrika is die enigste land in Sub-Sahara Afrika wat voedselsekerheid het."
'n Groot aantal borge het die aand moontlik gemaak.
Truter het na afloop van die funksie gesê: "Ons wil graag almal wat 'n bydrae gemaak het, bedank. Die krane van omgee is oopgedraai."
Vir meer besonderhede oor Help Herold Boere in Nood, besoek die webblad by www.facebook.com/Help Herold Boere In Nood of kontak Patrys Erasmus by 044 888 1624 of perasmus@tagri.co.za.
'Ons bring jou die nuutste Suid-Kaap nuus'