Dit ten spyte van gure weer en die Outeniquapas wat tot op die nippertjie weens rotsstortings vir verkeer gesluit was. Tot groot verligting van die feesorganiseerders, is een laan van die pas Donderdagmiddag oopgestel.
Weeber Truter, voorsitter van Agri Klein-Karoo en Feesvoorsitter sê dis te danke aan spanwerk. "Kantey en Templar en Penny Farthing het uitstekend gevaar, maar sonder die steun van Gerhard Otto van Eden Rampbestuur, Piet Lodder van Agri Klein-Karoo, Van der Berg Vervoer en die brandweer, sou dit baie langer geneem het. Baie dankie aan julle almal."
Hy sê dis tyd dat almal in Suid-Afrika hande vat en saamwerk om dinge te laat gebeur. "Ons moet ophou kritiseer. As die pas nie oop was nie sou baie uitstallers nie hier kon wees nie."
Die openingsaand met ekonoom Mike Schussler is by die Oppie Plaas Venue in Waboomskraal gehou. Die splinternuwe venue het ‘n asemrowende uitsig en is perfek vir troues en funksies van enige aard.
Volgens Truter het sowat 110 uitstallers vanjaar aan die fees deelgeneem. "Die terugvoer van uitstallers is baie positief en sommige het selfs meer bestellings en navrae gekry as die vorige twee jaar."
Die veiling het ook uitstekend gedoen en toppryse is vir diere gekry. "Die eerste Bonsmara en Limosine stoetveiling in die Suid-Kaap is gehou en saam met die Angus-veiling was dit baie suksesvol."
Truter sê hy glo die jeugskou waar skoolkinders in verskillende ouderdomme en kategorieë hulle dierehanteringsvernuf ten toon stel, is die toekoms van die fees. "Meer as 100 leerders van verskillende skole sover as Clanwilliam het deelgeneem. Die jeug neem ook nasionaal deel en ontvang Springbokkleure vir hulle prestasies."
Hy sê die doel van die jeugskou is ook om die kinders se belangstelling in die landbou te prikkel. "Die landbou is ‘n belangrike werksverskaffer. ‘n Landbouer word gebore en daarom is dit so belangrik dat hulle klein-klein deur die landbougogga gebyt word."
Truter sê hy gaan sommer nou al begin soek na ‘n hoofborg vir volgende jaar. "Hierdie jaar het ons net ‘n aantal klein borge gehad. Dit was nogtans ‘n sukses, maar ‘n sleutelborg is tog van kardinale belang omdat ‘n langtermynvennootskap die fees na nog groter hoogtes kan neem."
En groei, sal die fees beslis. Vanjaar is helikopterritte van 7 minute elk oor die Langkloof aangebied en was dit so gewild dat die helikopter se staanplek reeds vir volgende jaar se fees bespreek is.
"Ek is baie tevrede, maar sal graag van alle deelnemers en besoekers aan die fees wou hoor. Gee ons asseblief terugvoering. Enige idees om die fees verder te verbeter is welkom. Noem ook gerus wat nie vir jou werk nie."
SIEN NOG FOTO'S HIER.
Mike Shussler, sy vrou Greta en hul seun Rudi.
ARTIKEL EN FOTO'S: ILSE SCHOONRAAD, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR