Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Wonder jy ooit hoekom sekere areas meer oorstromings en rioolstortings het as ander?
In meeste gevalle kan die probleem direk verbind word met wat in die drein afgaan.
Verkeerde goed
Verkeerde goed wat in toilette afgespoel of in mangate en stormwaterafvoerpype gegooi word, is die grootste oorsaak van riool wat oorloop, verstopte dreine en oorstromings in opgeboude areas.
Probleemitems sluit in: kosverpakking en koeldrankbottels in stormwatersisteme, groot items soos dooie diere en meubels in mangate en afvoerpype, asook babadoeke, sanitêre produkte en koerantpapier wat in toilette afgespoel word.
Klein gat, groot probleem
Dinge verdwyn nie net omdat jy dit in die toilet afgespoel het of in ‘n dreingat gegooi het nie!
Inteendeel, verkeerde items in die dreine sal waarskynlik ‘n baie groter, meer stinkerige probleem word as die ding wat jy wou weggooi.
Dink daaroor: ‘n Sanitêre doekie is klein, maar dit kan ‘n groot rioolstorting in jou agterplaas veroorsaak as dit selfs net een pyp verstop.
Pype gaan oral
Ondergrondse pype verbind jou gemeenskap onder die grond op dieselfde manier as wat strate bo die grond aan mekaar verbind is.
Dit beteken vuilgoed wat binne-in ‘n drein ver van jou huis in ‘n gat gedruk is kan steeds probleme by jou eie huis veroorsaak, of waar jy inkopies doen, werk of stap. Die hele gemeenskap word bevoordeel wanneer pype oral skoon is.
Vullis verstop die sisteem
Niks solied is veronderstel om by ‘n dreinpyp of toilet af te gaan nie, maak nie saak hoe groot of klein dit is nie.
Groot goed sal maklik in ‘n pyp vassteek, maar ‘n hele klomp klein goedjies sal uiteindelik saamdrom en ook die drein verstop.
Ernstige gevolge
Verstopte stormwaterdreine kan oorstromings veroorsaak wat huise, motors en eiendom kan beskadig en selfs verdrinking tot gevolg kan hê.
Verstopte rioolpype sal rioolstortings veroorsaak wat stink en selfs ‘n gesondheidsprobleem kan wees.
Om dreinpype skoon te maak is duur en kos die munisipaliteit geld en mannekrag wat vir ander gemeenskapsprojekte gebruik kon word.
Indien jy gevang word dat jy rommel stort of rondgooi sal jy ‘n boete kry. Indien jy nie die boete kan betaal nie kan jy tronk toe gaan.
Moenie dit doen nie!
Moenie jou rommel in die gate langs die pad (stormwaterpype) gooi nie.
Moenie die volgende dinge in jou toilet afspoel nie: babadoeke, sanitêre doekies en tampons, koerantpapier, lappe, vetterige kos en vet.
Moenie die volgende items in mangate en dreine gooi nie: takke, karbande, klippe, dooie diere en vuil lappe.
Jy kan help
Beskerm jou eiendom en mense van die gevolge van die misbruik van rioolpype en stormwatersisteme in die volgende maniere:
- Maak seker die area voor stormwatergate in die pad is skoon van blare en gemors.
- Moenie rommel strooi nie. Hou kosverpakking, pastiekbottels, sigaretstompies en ander afval met jou tot jy by ‘n vullisdrom kom of tot by die huis waar jy dit in die regte plek kan weggooi.
- Hou jou gemors by die huis in ‘n swartsak en plaas dit op jou sypaadjie op vullis-opteldag uit. Jy kan elke week tot sewe swartsakke per huishouding uitsit.
- Plaas vuil babadoeke en gebruikte sanitêre produkte binne-in plastiek inkopiesakke en knoop dit toe voordat jy dit binne-in ‘n swartsak weggooi.
- Die toilet is nie ‘n vullisblik nie. Gebruik dit slegs vir liggaamlike funksies en toiletpaper. Die res moet in ‘n swartsak, munisipale skepbak (skip) of na ‘n stortingsterrein gaan.
- Gooi bourommel, voertuigbande en ander groot goed by die munisipale stortingsterrein weg of binne-in ‘n skepbak wat in u gebied uitgesit is.
- Indien daar ‘n herwinningsprogram in u area is, skei jou herwinbare items en gooi dit in die blou sak wat verskaf word. Plaas die blou sak saam met jou swartsakke op opteldag uit.
- Kyk uit vir enigiemand wat vir kwaadgeld rondloop en probeer om dreindeksels oop te maak – jaag hulle weg of meld hulle aan.
VIDEO: Verskaf
Rapporteer
Rapporteer verstopte riool en stormwaterpype by Siviele Ingenieursdienste 044 801 9262/66 of 044 801 6300 (n/u).
Rapporteer mense wat groot items in dreinpype gooi by Wetstoepassing 044 801 6350 of 044 801 6300 (n/u).
Rapporteer vuilgoed wat onwettig gestort is en verwyder moet word by Omgewingsdienste 044 802 2900 of 044 801 6300 (n/u).
Rapporteer dooie diere vir verwydering by Tuinroete DBV: 044 878 1990
Rapporteer dooie diere op die N2 vir verwydering by Sanral: 082 553 4878
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’