Medikus, George:
Na aanleiding van die brief in die koerant van 19 Oktober 2017 aangaande die skuif van Mediclinic.
Almal van ons is baie opgewonde oor 'n nuwe hospitaal in ons dorp. Dis regtig nodig aangesien ons huidige Mediclinic te klein geword het vir die aanwas van ons dorp. Die vraag is net moet die bestaande Mediclinic se lisensie vergroot word en hul steeds die monopolie in George behou of benodig ons dorp 'n opposisie hospitaal? Sal dit nie tot voordeel wees van ons dorp indien daar nog 'n privaat hospitaal in ons dorp open nie? Sal dit nie die pryse van prosedures, gehalte diens aan die publiek asook die salarisse van personeel positief beïnvloed nie? Kompetisie is mos 'n goeie ding. Die tweede saak wat ek aan dink is die posisie van die nuwe Mediclinic. Die mediese wêreld werk soos 'n groot net. Dis 'n klomp besighede wat interafhanklik is van mekaar. As daar nie dokters is nie, is daar nie pasiënte nie, is daar nie hospitale nie en so kan ons aangaan. Fisioterapeute, onkologie, laboratoriums, koffiewinkels, en vele meer. Tans is daar 'n hele netwerk van besighede om die bestaande Mediclinic. Wat is die toekoms van al die besighede as Mediclinic skuif? Gaan almal se besighede sluit en Mediclinic hulle dwing om by hulle kantore te huur? Gaan dit die middedorp tot stilstand bring? Is die skuif tot voordeel van al die mense van George? Mediclinic besit die Geneva-kliniek met die kollege langs hom. Hul besit ook feitlik al die grond vanaf Mediclinic tot amper by die spruit in Gloucesterlaan. Kan daardie grond nie gebruik word vir die skep van 'n nuwe hospitaal met genoeg parkering nie? So sal al die besighede om Mediclinic, waarvan Mediclinic interafhanklik is, nie hoef te skuif en groot verliese lei nie.
Dalk is die skuif van 'n hospitaal nie so eenvoudig nie.