Misdaad in middedorp: Genoeg is genoeg

Stefan Fourie skryf:

Ek woon my hele lewe lank in George en ek kan nie onthou dat ek al ooit so bekommerd oor misdaad in ons stad was soos tans nie.

Ek het onlangs my Go George-buskaart gaan afhaal en was op pad na 'n winkel in die middedorp toe 'n onbekende man my nader en na my roep. Ek het gesê ek kan hom ongelukkig nie help nie en aangestap.

Toe ek weer sien, het hy my uitgeskel en begin agtervolg. Ek het hom gevra om my uit te los, maar hy het aangehou om my te volg. Ek het uiteindelik by Alert Engine Parts in Hiberniastraat ingestap omdat ek daar veiliger gevoel het. 'n Werknemer het my later gewaarsku dat die man steeds na my soek.

Ek het die voorval daarna by die polisie aangemeld en 'n verklaring afgelê. Ek het ook gevra wat 'n mens wettiglik mag doen of by jou mag dra om jouself in 'n gevaarlike situasie te beskerm.

Hierdie was reeds die derde keer vanjaar dat ek persoonlik 'n onaangename voorval in George se middedorp beleef het. Ná die ernstige geweldsvoorval die afgelope naweek is dit verstaanbaar dat inwoners bekommerd is oor hul veiligheid.

Ons kan nie eenvoudig aanvaar dat mense bang moet wees om in openbare plekke rond te beweeg nie. Wat as iemand wat alleen is, of 'n ouer met 'n kind, in 'n soortgelyke situasie beland?

Inwoners van George moet hul stemme laat hoor en saamstaan vir 'n veiliger stad. As jy self 'n ernstige of bedreigende situasie in 'n openbare plek in George beleef het, deel jou ervaring. Genoeg is genoeg.