Anton Meyer van George skryf:
Misdaad raak ons almal op een of ander manier en ons is wel bewus daarvan. Niemand kan ontken dat dit 'n groot uitdaging in ons daaglikse doen en late is nie.
Eerder as om 'n slagoffer van misdaad te word, moet ons dink wat kan ons doen om direkte aanvalle teen ons te voorkom.
Die Amerikaanse lugmag-kolonel John Boyd het in die vroeë 1970's die beginsel van die OODA Loop ontwerp. Observe, Orient, Decide, Act. Die "Loop" beteken dat die proses oor en oor herhaal word. Ná "Act" begin die "Observe" weer. Oral waar ons daagliks gaan, kan hierdie beginsel toegepas word.
Observe - Weet altyd wat om jou aangaan. Neem waar wat rondom jou gebeur, kyk rond en wees bewus van die voertuig met verdagte insittendes wat stadig in die straat af ry. Wees bewus van wat om jou aangaan wanneer jy in die winkelsentrum rondloop, wanneer jy in 'n straat in 'n gevaarlike area staan, of wanneer jy vroegoggend in die bos stap of gaan draf.
Wanneer jy in 'n restaurant sit, wees bewus van wie by die deur inkom. Let op mense se lyftaal. Is hulle senuweeagtig? Sweet hulle? Maak hulle oogkontak? Beweeg hulle ongeduldig rond? Wees bewus van wat mense doen.
Orient - Wanneer jy sien dat 'n situasie kan handuit ruk of jou direk kan beïnvloed, plaas jouself in 'n gunstige posisie om jouself te beveilig of om weg te beweeg. As jy sien dat rowers met wapens 'n winkel binnekom, kry skuiling of plaas jouself in 'n posisie om op te tree indien die situasie dit wetlik regverdig.
Selfverdediging kan slegs toegepas word indien 'n aanval direk teen jou lewe gerig word, nie bloot teen jou eiendom nie. Sou jy optree, sal jy in die hof moet getuig en die regter sal vyf beginsels van selfverdediging toepas om te bepaal of jy binne die wetlike raamwerk opgetree het.
Een daarvan is innocence, met ander woorde: Kon jy die konfrontasie vermy het? Kon jy weggeloop het? Het jy die konfrontasie tegemoetgegaan, of daarvan probeer wegbeweeg? As jy geen ander keuse gehad het as om op te tree nie, moet jy dit kan bewys.
Decide - Jy het 'n kwesbare situasie waargeneem en jouself in 'n gunstige posisie geplaas om op te tree. Dan moet jy besluit wat jy gaan doen. Gaan jy teen die aanval optree, of gaan jy probeer om veilig weg te beweeg om konfrontasie te vermy? Besluit wat jou plan van aksie is.
Act - Dan voer jy jou besluit uit. Dit kan beteken dat jy direk teenstand bied, of dat jy van die gevaar af wegbeweeg. Onthou die wetlike gevolge van jou optrede. Jy moet in die hof kan getuig dat jy geen ander keuse gehad het as om op te tree nie. Selfs as jy 'n getuie is, sal jy moet gaan verklaar wat jy gesien het.
Deur te weet wat om jou aangaan, deur jouself nie kwesbaar te maak nie, deur iemand saam te neem wanneer jy in die bos gaan draf of stap, en deur jouself te leer hoe om aanvalle teen jou af te weer, kan jy help verseker dat jy nie deel van misdaadstatistieke word nie.
Die beste is altyd om konfrontasie te vermy. Vermy dus plekke wat teikens vir misdadigers kan wees, soos dobbelplekke, winkelsentrums, stadions, ensovoorts. Wanneer jy wel hierdie plekke moet besoek, pas die OODA Loop voortdurend toe.
As jy dit deel van jou leefwyse maak, verminder jy jou kans aansienlik om 'n slagoffer van misdaad te word en die gevolge daarvan te moet dra.