Hannes Jansen van George skryf:
Met die volgende munisipale verkiesing om die draai is dit nodig om so 'n bietjie introspeksie te hou vir waarvoor ons werklik stem.
Politieke partye word deur plaaslike raadslede verteenwoordig. Hierdie raadslede is daar om die gemeenskappe te dien - en dit kos geld. Volgens die Nasionale Tesourie sal die huidge boekjaar se uitgawes vir raadslede R5,6 miljard beloop!
Hierdie bedrag sal jaarliks styg, en gegewe huidige inflasionêre aanpassings kan die kostes van die verkose raadslede in die komende verkiesing vir die volgende vier-jaar-periode vir inwoners van die onderskeie munispaliteite in Suid-Afrika 'n totale kostelas van R25 miljard beloop.
R25 miljard is 'n aansienlike bedrag en sluit verskeie ander uitgawes soos selfoontoelaes, vervoertoelaes, ens. uit.
Wees dus daarvan bewus dat jy nie net vir 'n politieke party stem nie, maar ook oor die aanwending van hierdie R25 miljard oor die volgende vier jaar.
Verder moet die vraag tog gevra word - kan ons nog 'n bedeling van wyksverteenwoordigers bekostig?