Gedig deur Stefan Botha:
My eerste Oktober sonder strate van pers.
Hierdie kant van die land bly ons bietjie langer onder die kombers.
Want hier kom die somer nie so gou.
Maar wanneer hy eers arriveer.
Is dit iets om te aanskou.
En ek praat nie eers van die see so blou.
Hier het ek die gejaagdheid van die stad afgeleer.
In baie minder verkeer.
Terwyl ek ook al meer van die lewe leer en waardeer.
Hier ry en loop almal stadig.
Maar die rustigheid maak my hart versadig.
Wanneer ek daagliks die Outeniqua se skoonheid dophou.
Kan ek geensins my besluit om hierheen te verhuis berou.
Tog is daar tye wanneer ek baie verlang.
Soos wanneer die mis dig oor die berge hang.
Maar wanneer die weer eers opklaar.
Kan 'n mens baie lekker hier baljaar.
Só baie ongerepte plekke om te verken
En strande om by te gaan swem.
Van Wildernis tot Fransmanshoek.
Soveel weggesteekte juwele om te besoek.
Van die see se sout tot die pragtige woud, selfs al is dit koud,
Lê hierdie plek aan die einde van 'n reënboog soos 'n pot goud.
Hier sien ek 'n mengsel van God se mense.
En die mooi van verskillende kulture.
Wat vergader in kerke, klubs en kroeë, rondom braaivleisvure
en in die gym se hoofkwartiere.
Terwyl Hy voldoen aan almal van ons se wense.
Wanneer die sagte motreën ons Aarde soen.
Weet ek dis ook Hy wat dit vir ons doen dit.
En ons vlaktes bedek met 'n see van groen.
Ek is ewig dankbaar vir die Transvaal.
Maar vir nou is ek aan 'n nuwe plek lojaal.
Aan hiérdie plek wil ek help bou.
En 'n nalatenskap agterlaat om te onthou.
Uit die Hart van die Tuinroete stuur ek groete vir Sproete.