Dankie aan verpleegsters

HJ Gerber, Paarl:

Elke jaar op 12 Mei is dit Internasionale Verpleegstersdag omdat die bekende verpleegster, Florence Nightingale (gebore 12 Mei 1820), op die dag verjaar het.

Sy was 'n rykmansdogter wat besluit het om eerder 'n nederige bestaan te voer om as verpleër siekes vanuit alle oorde by te staan. Sy het 'n ikoniese simbool van verpleegkunde geword en bekendgestaan as, The lady with the lamp.

Ek wil deur middel van die media die duisende verpleegkundiges wat in die besondere beroep diens van onskatbare waarde lewer, bedank. Dit is altyd 'n voorreg om na julle uit te reik, vreugde en hartseer te deel, maar ook te weet dat die wat vrylik gee, mildelik sal ontvang. Die verpleegkundige het net die slag om sonskyn te bring met dit wat hulle doen of sê.

Baie dankie vir alles wat die verpleegkundige vir die pasiënte beteken het. Dit word baie waardeer. 'n Jaar vol voorspoed en sukses word die verpleegkundiges toegewens.