Dankbaarheid vir hulp met onklaar motor

Adriaan du Toit van Sinksabrug skryf:

Op Woensdag 7 Oktober het ons motor skielik in Yorkstraat, net verby Mediclinic, alle krag verloor. Ons het gestop, die motorkap oopgemaak, die AA gebel en verder nie juis geweet wat om te doen nie. 

Ek is 90 jaar oud, en my vrou 83.

'n Hele ruk later het 'n man by ons gestop om ons te help. Die battery was morsdood en die waaierband gebreek. 

Nadat die man gou sy batterylaaier by sy huis gaan haal het, het hy ons s'n gelaai en vir ons gesê om na die naaste garage te ry waar hy ons verder sou help. Dit was baie moeilik vir ons dogter om die motor sonder enige krag in die stuur daar te kry.

Hier het die man en die joggie van Astron Garage die motor tot in 'n skaduplek gestoot. 

Die man het water in die kurkdroë verkoeler gegooi, die gebreekte waaierband verwyder en die battery verder gelaai. Eers nadat Kevin van Outeniqua Auto Maintenance opgedaag en ons verder gehelp het, was die man tevrede dat ons nie verder sy hulp nodig het nie.

Ons wil net vir hierdie man wat ons so mooi gehelp het - in ons verwardheid het ons nie sy naam gevra nie - dankie sê. Daar is nog soveel mooi mense in George wat bereid is om oumense in hul nood te help.